Gimmies baas in die Paarl en Menlopark behaal geskiedkundige sege

Written by Hannes Nienaber

NewsGCurwinGertse School of Rugby | Gimmies baas in die Paarl en Menlopark behaal geskiedkundige sege - School of RugbyDit was vier maer jare, maar uiteindelik kon Paarl Gimnasium daarin slaag om die Hoër Jongenskool Paarl in dié Interskole van interskoles die septer te swaai. Gimmies was naelskraaps met 18-17 in ‘n wedstryd vol hoogdrama baas.

Meeste ondersteuners vanuit die Bloedwors-geledere sou sou met slegs drie minute se speeltyd oor in die Faurestraat-stadion met die telling 18-5 in hul span se guns reeds die vonkelwyn se proppe die lug laat inskiet het.

Die skeidsregter, Quinton Immelman, se horlosie het egter ‘n bietjie meer speeltyd as die drie minute op die telbord oorgehad. Boishaai se plaasvervanger-agterspeler, Riis du Plessis, het om ‘n losskrum oor die doellyn geglip. Du Plessis is die seun van die Prins van Vleuels, Carel du Plessis.

Die heelagter, Jacques Rousseau, het met die doelskop geslaag om Gimmies se voorsprong na 18-12 in te perk. ‘n Verdere senutergende sewe minute later het Boishaai se vleuel Javier Farmer in die hoek oorgeduik om aan sy span die geleentheid te gee om ‘n sege te kan behaal. Die doelskop van Rousseau was nie suksesvol nie.

Gimmies se regtervleuel, Curwin Gertse, het daarin geslaag om twee keer sy pad doellyn toe oop te sien. Gertse se vleuelmaat, Stravino Jacobs, was ook een van sy span se staatmakers. Voorlangs het die flank Pierich Siebert met sy werksverrigting op verdediging asook by die afbreekpunt beĪndruk.

Boishaai se losskakel, Kian Meadon, asook die loskopstut en kaptein, Rhynardt Rijnsburger, kan meer as tevrede met hul vertonings vir die Galpille voel. Die wedstryd was voorwaar 'n vertoonventer van die gehalte van Suid-Afrikaanse skolerugby.

Die Hoërskool Menlopark se eerstespan het sy beste vertoning in meer as ‘n dekade opgedis om met ‘n geskiedkundige sege van 22-15 oor Monument seker van sy plek in die uitspeelrondes van die Virsekerbeker se Beker-afdeling te maak.NewsGMenlopark School of Rugby | Gimmies baas in die Paarl en Menlopark behaal geskiedkundige sege - School of Rugby

Dit was die eerste keer ooit wat die Parkies daarin kon slaag om die Wit Bulle van Krugersdorp tot oorgawe te dwing. Die sege is danksy rotsvaste verdediging asook uitstekende werk by die afbreekpunte deur die kantman, Tiaan Lange, behaal. 

Die span van Pretoria sal nou teen Garsfontein in die halfeindronde van die reeks te staan kom. Monnas pak vir Helpmekaar-kollege in die ander halfeindstryd van die reeks.

Garsfontein het soos die afgelope drie weke die geval was op alle silinders gevuur. Garsies het Transvalia se tjank vir oulaas met 73-22 op Bere-park afgetrap.

Die Turkoois Bere se afrigters het boonop hul vier nasionale skolespelers Jurich Claassens (skrumskakel), Geraldo Flusk (vleuel), Zeilinga Strydom (heelagter) en Raynard Roets (kaptein en slot) uit die beginspan gelaat.

Garsies se heelagter, Dillon Olckers, het ‘n driekuns aan drieë in die oorwinning behaal. EG Jansen het gedoen wat van hulle verwag was indien Parkies sou vasval en ‘n klinkende sege van 62-38 oor Noordheuwel beklink. Die Jansies se vleuel Tylon Kotze het drie keer agter die doellyn gaan kuier.

Op Shimlapark in Bloemfontein moes die Hoërskool Sentraal hard werk om Jim Fouché met 23-20 in die Vrystaatse A-liga eindstryd die loef af te steek. Die Tralies was laas in 2015 as kampioen gekroon.

In Welkom se HT Pelatona-stadion was daar amper ‘n reuse opskudding. Die aartsvyande Welkom Gimnasium en Goudveld-Hoërskool het met 22-elk gelykop gespeel. Gimmies het soos die Engelse Wêreldbeker-krieketspan nie die eindstryd gewen nie, maar wel met die louere weggestap weens die feit dat hulle eerste in die wedstryd gaan druk het.

Gimmies het vroeër vanjaar vir Gouties met 43-16 in hul ligawedstryd die loef afgesteek. Die twee spanne kan mekaar dalk ‘n derde keer ontmoet indien albei tot die eindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) deurdring.

Welkom Gimnasium sal as die Griffon-kampioen teen Griekwas se kampioen, Duineveld van Upington, in die halfeindronde te staan kom. Gouties sal na Bloemfontein moet reis om teen Sentraal in die ander halfeindstryd kragte te meet.

Grey-kollege het met sy eerste besoek aan Riversdal die Bulle van Oakdale Landbou se sterte met 57-26 geknoop. Die span van die Rosestad se losskakel, FC du Plessis, het 20 punte tot die sege via twee drieë en vyf doelskoppe bygedra.

In die kwarteindronde van die Virsekerbeker se Afdeling 2 het die Hoërskool Pietersburg se Cravenweek-senter Taylor du Plessis amok gesaai deur vyf keer die doellyn in sy span se sege van 36-21 oor Secunda oor te steek. Ligbron Akademie het met 'n oorwinning van 40-15 oor Midstream College ook sy plek in die halfeindronde bespreek. 

Wesvalia was met 40-15 ook te sterk vir Ermelo, terwyl die Hoërskool Klerksdorp vir Overkruin met 52-22 laat les opsê het. 

In Afdeling 3 sal die Leeuwenhof Akademie teen Curro Heuwelkruin van Polokwane sake teen mekaar in die eindstryd uitspook. Leeuwenhof het sy plek in die eindstryd met 'n sege van 24-19 oor Standerton bespreek. Curro Heuwelkruin het in die ander halfeindstryd vir Fochville met 32-17 verslaan. 

Afdeling 4 se eindstryd sal tussen Warmbad en Springs Boys' High beslis word. Warmbad was met 34-5 te sterk vir Akasia in hul halfeindstryd, terwyl Springs Boys' High vir Steelcrest van Middelburg met 34-27 in die ander halfeindstryd uitgeskakel het. 

Ben Vorster was in 'n vernietigende bui teen Zwartkop en het in die Plaat-afdeling van die Virsekerbeker vir Zwartkop met 95-24 kaf gedraf. Die Vossies se regtervleuel, Zian van der Heever, het drie van sy span se 15 drieë afgerond. 

FOTOS: Ashley Vlotman/Gallo Images en Riaan de Bruyn

Al die uitslae: 

School Rugby Results - 3 August 2019
Al die uitslae van die Virsekerbeker - 3 Augustus 2019

[powr-comments id="b6011a87_1564856865603"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.