Dis Menlo teen Helpmekaar in die Virsekerbeker-eindstryd

Written by Hannes Nienaber

NewsGMenlopark2 School of Rugby | Dis Menlo teen Helpmekaar in die Virsekerbeker-eindstryd - School of RugbyDie eerste rugbyspan van die Hoërskool Menlopark het vir die tweede agtereenvolgende week vir 'n reuse opskudding in die Virsekekerbeker gesorg. 

Die Parkies het in die halfeindstryd van die Beker-kompetisie vir die eerste keer sedert 2011 daarin geslaag om die Hoërskool Garsfontein om te dop. Die telling van 72-40 in Menlopark se guns is boonop die grootste sege wat hy nog oor die Turkoois Bere behaal het. 

Menlopark se heelagter, Niel Beukes, was op sy stukke in die geskiedkundige sege en het 'n reuse bydra van 25 punte gelewer. Beukes het twee keer Garsies se doellyn oorgesteek, ses van sy span se 11 drieë verdoel en ook 'n strafdoel tussen die die pale gejaag. 

Die wenspan se binnesenter, Ruan Oosthuizen, asook vleuel Ulrich Wiese het albei ook twee keer Garsfontein se doellyn oorgesteek. Die skrumskakel, Keanan Wessels, het ook 'n goeie wedstryd beleef. 

Garsfontein se Turkoois Bere sal nog vir lank hul wonde na die nederlaag lek. Garsies moes sonder vyf van sy beste spelers Zeilinga Strydom (heelagter), Jurich Claassens (skrumskakel), Geraldo Flusk (vleuel), Raynard Roets (kaptein en slot) asook Gerhard van der Merwe (vaskopstut) klaarkom wat vir die twee nasionale skolespanne diens doen.

Die binnesenter, AJ Johnson, se vertoning is ook sonder twyfel beinvloed deur die feit dat hy kort voor die halfeindstryd ingelig is dat hy homself ook Sondag by die SA Skole A-span moet aansluit. 

Voorlangs was die slotpaar, Ernst Simon en Theo Daily, uitstaande. Die twee het ook die toekenning as Speler van die Wedstryd gedeel. Die haker, Enrique Courtriers, was ook weer woelig.

Menlopark het verlede week vir die eerste keer ooit daarin geslaag om Monument van Krugersdorp die loef af te steek. Indien die span op sy vertonings oor die afgelope twee weke kan voortbou sal hy 'n spesiale plek in die eindstryd Saterdag op Marais Viljoen se hoofveld in Alberton vir homself in Menlopark se geskiedenis verseker. 

Dit sal die eerste keer sedert 1991 wees dat die Parkies in 'n eindstryd van die reeks in aksie sal wees. Menlopark het destyds met 10-18 teen HTS Middelburg in die destydse Direkteurstrofee vasgeval.  

Helpmekaar-kollege het ook vir ietwat van 'n opskudding gesorg, maar wat is 'n Virsekerbeker-halfeindstryd sonder 'n opskudding of twee. Helpies het vir Monument op sy tuisveld, die Ras van Rooyen-veld, in Krugersdorp met 27-22 verslaan. Monnas was met 41-31 in die ligawedstryd tussen die twee spanne baas. 

Die halfeindstryd was 'n klipharde kragmeting en Monnas het laat in die wedstryd 'n geleentheid gehad om sy plek in die eindstryd te bespreek. Monnas is die verdedigende kampioen. Die Wit Bulle het uitstekend gedoen om terug in die kragmeting te kom.

Helpies het 'n voorsprong van 20-8 in 'n stadium geniet. Die wenspan se binnesenter, Divan Esterhuizen, het 'n geelkaart ontvang en ook 'n strafdrie in die proses afgestaan en dit het Monnas se terrugvegpoging ingelei. Esterhuizen was ondanks die tien minute in die koelkas een van Helpies se sterre. 

Helpies se slot, Keith Whitehead, het ook weer met sy inklimspel beïndruk. Vir die Wit Bulle het sy agtsteman, Kayle Schultz, asook die kantman Rynard Mouton goed vertoon. Schultz moes die groot skoene van Izan Esterhuizen (SA Skole A) volstaan, terwyl Monnas se kaptein en buitesenter, Henco van Wyk, se afwesigheid ook 'n leemte gelaat het. Van Wyk was Vrydag vir die SA Skole-span teen Wallis in aksie. 

Helpies het verlede jaar in die eindstryd van die reeks teen Monument met 11-57 die knie gebuig. Helpies het voor die reeks 'n nuwe baadjie aangetrek het ook vir drie jaar op 'n streep (2015-17) die kroon as Grootskole-kampioen gedra. 

PUNTEMAKERS: 

Menlopark 72 (29) - Drieë: Ruan Oosthuizen (2), Niel Beukes (2), Ulrich Wiese (2), Nolan Pienaar, Tiaan Lange, Keanan Wessels, Michael Schoeman, Theo Daily. Doelskoppe: Beukes (6), Marcelle Deysel. Strafdoel: Beukes. Garsfontein 40 (19) - Drieë: Manie Potgieter (2), AJ Johnson, Carlton Bannies, Devoux Deysel, Stefan Terblanche. Doelskoppe: Wikus Basson (5).

Helpmekaar 27 (13) - Sebastine Watney, Brink Marx, Divan Esterhuizen. Doelskoppe: Tiaan Botes (3). Strafdoele: Botes (2). Monument 22 (8) - Drieë: Rueben Barnard (2), Strafdrie. Doelskop: Franco Hallet. Strafdoele: Hallat. 

Ander spanne:

o.16: HTS Middelburg 43, Helpmekaar 28; Noordheuwel 30, Menlopark 12. 

o.15: Helpmekaar 24, Garsfontein 5; Monument 17, Menlopark 8.

o.14: Monument 20, Menlopark 13; HTS Middelburg 15, Helpmekaar 12.

[powr-comments id="95bed741_1565513167000"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.