Sleutel tot sukses lê Saterdag in die tweestryd tussen Wolhuter en Du Plessis

Written by Hannes Nienaber

NewsGKadeWolhuter10 School of Rugby | Sleutel tot sukses lê Saterdag in die tweestryd tussen Wolhuter en Du Plessis - School of RugbyOndanks die feit dat die jaarlikse interskole tussen Paul Roos Gimnasium en Grey-kollege weereens so bietjie van sy glans weens die SA Skole-wedstryd verloor, sal ondersteuners van skolerugby steeds hul lippe aflek om twee van die voorste losskakels op skolevlak in Suid-Afrika vanjaar in 'n tweestryd gewikkel te sien. 

Die eerstespan se wedstryd word Saterdag vanaf 14:00 regstreeks op SuperSport10 uitgesaai. Al die ander wedstryde op Markotter word regstreeks via PRG TV op DigiTV.co.za uitgesaai. 

Kade Wolhuter (Paul Roos) en FC du Plessis (Grey) was tot dusver vanjaar saam met die Hoër Jongenskool Paarl se Kian Meadon die voorste losskakels in Suid-Afrika.

Wolhuter (Montpellier) en Du Plessis (Toulon) is egter oor die hoof gesien om in die nasionale skolespanne opgeneem te word omdat hulle besluit het om hul loopbane volgende jaar in Frankryk voort te sit. 

Wolhuter het vanjaar die punte ingeryg en was met 50 punte die voorste puntemaker tydens die Cravenweek in Bloemfontein. Hy het ook tot dusver vanjaar 144 punte vir sy skoolspan opgestapel.

Die skitterende losskakel was sonder twyfel die skolespeler waaroor daar vanjaar die meeste gepraat is. Wolhuter sou waarskynlik ook, indien hy nie na skool by Montpellier aansluit nie, die toekenning as die Speler van die Cravenweek ontvang het. 

Wolhuter se adjudant Christiaan van Blommenstein het ook vanjaar veral in Japan van die stelskopwerk waargeneem. Hy het 64 punte vir Paul Roos se eerstes met sy skopskoen vanjaar aangeteken. 

Du Plessis is ook Grey se voorste puntemaker vanjaar met 113 punte agter sy naam. Hy het egter in meeste van Grey se wedstryde nie die stelskopwerk waargeneem nie. Die span van die Rosestad se skrumskakel, Juan-Dee Olivier (101) en die heelagter, Franco Knoetze (106), het vanjaar ook die punte ingeryg.

Knoetze het vanjaar as vleuel die drieë ingeryg. Hy is met 16 drieë een van sy skoolspan se voorste driedrukkers. Knoetze was ook vroeër vanjaar as binnesenter van die Vrystaat op die Akademie-week die toernooi se voorste driedrukker met sewe drieë. Hy het ook die Vrystaatse Cravenweek-span op die laaste dag gaan uithelp en nog twee drieë ingeryg. 

Grey sal sonder George Cronjé (kaptein en agtsteman), André-Hugo Venter (haker), Jan-Hendrik Wessels (loskopstut), Sinonke Vumazonke (slot) en Sonwabo Sokoyi (heelagter) moet klaarkom wat Saterdag vir die twee nasionale skolespanne in Wellington in aksie sal wees. Paul Roos se Jarrod Cairns voer vanaf agtsteman die SA Skole A-span aan, terwyl Tiaan Pretorius ook die middelveld vir die span sal beman. In die nasionale uitsoekspan sak Dylan de Leeuw op slot. 

Grey se makrovleuel, Marcell Muller, het vanjaar al 17 keer die doellyn oorgesteek. Grey se ander vleuel vir Saterdag, JD Odendal, het self ook al 11 keer vanjaar die doellyn oorgesteek. Paul Roos se buitesenter, Luke Burger, is met 11 drieë sy skoolspan se voorste driedrukker tot dusver vanjaar.

Paul Roos se binnesenter, Ruben Labuschagne, asook die haker, Meiring Ebersohn, sal ook sleutelspelers vir die tuisspan wees indien hulle Grey met die kous oor die kop huistoe wil stuur.  

Grey-kollege is sonder twyfel die voorste skolespan in Suid-Afrika vanjaar. Die span van 2019 sal met 'n sege in Stellenbosch ook in die toekoms genoem word wanneer daar oor die voorste spanne vanuit Grey-kollege bespiegel word. 

Paul Roos is op sy beurt weer die "wêreldkampioen" na hy vroeër vanjaar vanuit Japan as die gesogte Sanix-toernooi se kampioen na Suid-Afrika terug gekeer het. Die span van die Eikestad het St Peter's College van Nieu-Seeland met 52-5 in die eindstryd in Japan die loef afgesteek. 

Paul Roos het egter met sy terugkeer na Suid-Afrika sy rieme in opeenvolgende Saterdae teen onderskeidelik Paarl Gimnasium (15-42) en die Hoër Jongenskool Paarl (16-29) vasgeloop.

Grey het die drie laaste kragmetings tussen die twee skole elke keer met twee punte gewen. Die Bloemfonteiners was in 2018 (28-26), 2017 (20-28) en 2016 (34-32) baas. Paul Roos het laas in 2015 die septer geswaai toe hy met 19-12 as oorwinnaars van die veld gestap het. 

Paul Roos sal ook inspirasie uit die feit dat een van sy oud-leerlinge Schalk Brits Saterdag die Springbokke op Loftus Verfeld teen Argentinië op die veld sal lei. Die eerste Bok-kaptein wat die skool oplewer sedert die uwe Paul Roos in 1906 die eerste Springbok-span aangevoer het. 

Die spanne is: 

Paul Roos Gimnasium: 15 Cade Croy, 14 Ronin Daniels, 13 Luke Burger, 12 Ruben Labuschagne, 11 Andrew Pegg, 10 Kade Wolhuter, 9 Xander Botha, 8 André Smit, 7 Calvyn Louis, 6 Arno Heenop, 5 Andreas Wiid, 4 Daniel Swart, 3 Corné Weilbach, 2 Meiring Ebersohn, 1 Paul Spangenberg. 

Grey-kollege: 15 Franco Knoetze, 14 JD Odendal, 13 Ian Small-Smith, 12 Lesley Botha, 11 Marcell Muller, 10 FC du Plessis, 9 Juan-Dee Olivier, 8 Janco Cloete, 7 Deon le Roux, 6 Duan Ludik, 5 Danwich Beukes, 4 Hendré Kramer, 3 Petrus Naudé, 2 Ricardo Fourie, 1 Tielman Nieuwoudt.

Skeidsregter: Nathan Swartz.

Regstreeks Saterdag, 17 Augustus 2019 op PRG TV Skakels na Live Streaming
PRG_TV School of Rugby | Sleutel tot sukses lê Saterdag in die tweestryd tussen Wolhuter en Du Plessis - School of Rugby 12:30 o.19B Paul Roos vs Grey College https://digitv.co.za/#/video/13574/13574/live
11:20 o.19C Paul Roos vs Grey College https://digitv.co.za/#/video/13574/13574/live
10:10 o.16A Paul Roos vs Grey College https://digitv.co.za/#/video/13574/13574/live
09:00 o.19D Paul Roos vs Grey College https://digitv.co.za/#/video/13574/13574/live

[powr-comments id="73d98a12_1565943079050"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.