Pieties en Liggies pak mekaar in wat beloof 'n riller Virsekerbeker-eindstryd te wees

Written by Hannes Nienaber

NewsGZanderdeRidder10 School of Rugby | Pieties en Liggies pak mekaar in wat beloof 'n riller Virsekerbeker-eindstryd te wees - School of RugbyDaar wag 'n opwindende wedstryd op toeskouers wat die eindstryd tussen die Hoërskool Pietersburg en die Ligbron Akademie van Ermelo op Marais Viljoen se B-veld in Alberton gaan bywoon. Die kragmeting het soveel belofte dat dit eintlik 'n jammerte is dat dit nie waardig genoeg geag was om op die A-veld beslis te word nie. 

Die eindstryd van Afdeling 2 van die Virsekerbeker beloof dus om vir hope vuurwerk te sorg. 

Albei spanne het vanjaar nog net een keer die knie gebuig. Ligbron het vroeër vanjaar teen Lydenburg met 14-20 vasgeval. Die Pieties het op hul beurt slegs in hul ligawedstryd teen Frikkie Meyer van Thabazimbi (19-22) die onderspit gedelf. 

Die Pieties het wel daarna in die Limpopo-eindstryd met 34-25 die bordjies teen Frikkie Meyer verhang.

Indien Ligbron die trofee omhoog wil hou sal hy Pieties se losskakel, Zander de Ridder, moet hokslaan. De Ridder was vroeër vanjaar met 59 punte tydens die Akademie-week in Bloemfontein die voorste puntemaker op die toernooi. 

Hy het daarmee ook die Limpopo Blou Bulle gehelp om vir die eerste keer in jare met 'n onoorwonne span van een van SA Rugby se nasionale toernooie terug te keer. Hy het vanjaar vir Pietersburg in hul 16 wedstryde tot dusver 'n totaal van 181 punte opgestapel. Dit sluit 11 drieë in. Hy het verlede week in die halfeindronde 'n allemintige 30 punte tot sy span se sege van 35-29 oor die Hoërskool Klerksdorp aangeteken. 

Die Ligbron Akademie het behoorlik in sy halfeindstryd teen Wesvalia van Klerksdorp sy tande gewys. Die span van Ermelo het oortuigend met 65-17 in die kragmeting geseëvier. Die Liggies se losskakel, Mark Niebuhr, het self 30 punte in die oorwinning opgestapel. 

Die Pieties het vroeër vanjaar die Vrystaatse kampioenspan, die Hoërskool Sentraal, met 24-7 afgestof. Die span van Polokwane se buitesenter, Taylor du Plessis (16), asook die kaptein en heelagter, Brandon Cronjé (18), het tot dusver ook die drieë ingeryg. Cronjé het ook die Limpopo Blou Bulle se Cravenweek-span aangevoer, terwyl Du Plessis ook 'n lid van die span was. 

Interresant is dat die eerstespan van Ligbron se nederlaag teen Lydenburg die enigste was tussen al drie sy spanne wat Saterdag in die eindstryd van die Virsekerbeker in aksie sal wees. Die o.14- en o.16-spanne spog tot dusver met 'n vlekkelose rekord. 

Die spanne is: 

Hoërskool Pietersburg: 15 Brandon Cronjé (kaptein), 14 Jeandré Moos, 13 Taylor du Plessis, 12 Tendai Kgopa, 11 Sharn van Rensburg, 10 Zander de Ridder, 9 Dian Geerkens, 8 Derik Joubert, 7 Devan Janse van Rensburg, 6 Francois Koekemoer, 5 Roy Stewart, 4 Jurgen von Houwald, 3 Henco Chalmers, 2 Martin van Niekerk, 1 Juninho Patricio. 

Ligbron Akademie: 15 Thandolwethu Nghangombe, 14 Sikho Yoyo, 13 Alec Duncan, 12 Leon du Preez, 11 Liyema Mbokri, 10 Mark Niebuhr, 9 Arno de Vries, 8 Xavier Fourie, 7 Rynard Horn, 6 Bongmusa Banda, 5 Pierre van Zyl, 4 JP Louw, 3 Petrus Stapelberg, 2 Franco de Lange, 1 Alex Fraser.

Lees Meer: 

De Ridder van die Windjie kelder Klerksdorp in halfeindronde

[powr-comments id="083aa405_1565973478530"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.