Parkies herskryf rekordboeke in die Virsekerbeker

Written by Hannes Nienaber

NewsGMenlopark School of Rugby | Parkies herskryf rekordboeke in die Virsekerbeker - School of RugbyDie Hoërskool Menlopark se eerste rugbyspan van 2019 het sy naam in die geskiedenis van die skool verewig deur vir die eerste keer ooit as kampioen van die Virsekerbeker se Beker-kompetisie gekroon te word.

Die Parkies het danksy 'n skitterende vertoning in die tweede helfte van die eindstryd vir Helpmekaar-kollege met 44-17 op Marais Viljoen se hoofveld in Alberton die loef afgesteek. 

Die Virsekerbeker het voorheen as die Beeldtrofee, Direkteurstrofee asook die Administrateursbeker bekend gestaan. Dit is die oudste skolerugbykompetisie in Suid-Afrika.

Menlopark het 'n ongelooflike 34 ongeantwoorde punte in die tweede helfte aangeteken om ook vir die eerste keer in die skool se geskiedenis vir Helpies kaf te draf.

Helpmekaar moet vir die tweede agtereenvolgende jaar met die tweede plek tevrede wees na hy verlede jaar ook in die eindstryd oor die laaste hekkie teen Monument (11-57) gestruikel het. 

Die eerste helfte van die eindstryd het aan die Helpies behoort en hulle het 'n voorsprong van 17-10 geniet toe die skeidsregter, Johré Botha, die fluitjie vir rustyd geblaas het. Helpies se linkervleuel, Christiaan Bezuidenhout, het met sy twee drieë sy eie drieërekord vir 'n seisoen vir sy skool se eerstespan tot 19 drieë verbeter. Bezuidenhout het verlede jaar die rekord agter sy naam met 17 drieë geskryf. 

Helpies se binnesenter, Divan Esterhuizen, het met sy lopies in die middelveld vir Menlopark probleme besorg en ook gehelp om spasie vir Bezuidenhout op die punt te bewerkstellig. 

Die Parkies se haker, Enrique Courtriers, het 'n uitstaande vertoning gelewer. Hy het nie net 'n paar kragtige lopies ingekry nie. Hy het ook meer as sy gewig by die afbreekpunte ingegooi asook as 'n rol as skakel tussen voor- en agterspelers gedien. Hy het ook die laaste sê in die kragmeting gehad toe hy die Parkies se laaste drie verdoel het. 

Agterlangs het die vleuel Ulrich Wiese deurgans gevaarlik gelyk wanneer hy in besit van die bal geplaas is. Danksy 'n lopie van 60 meter deur Wiese het Menlopark vir die eerste keer in die 16de minuut van die tweede helfte vir die eerste keer die voortou met 18-17 geneem.

Die Parkies het besit op sy eie doellyn omgekeer waarna Wiese 60 meter genael en verdedigers ontduik het. Toe Wiese uiteindelik plat getrek is, was die flank Tiaan Lange byderhand en Botha ken 'n strafskop aan Menlopark toe. Courtriers dink op sy voete en neem die strafskop vinnig en die heelagter, Niel Beukes, het oorgeduik vir die drie om die voortou te neem. 

Menlopark se kaptein en flank, Lohan Potgieter, die binnesenter, Ruan Oosthuizen, asook die lastige skrumskakel, Keanan Wessels, was groot dorings in Helpmekaar se vlees gewees. 

Die verhaal van Menlopark se verowering van die Virsekerbeker sal nie volledig wees sonder om te noem dat die span vir die laaste drie weke van die seisoen die rekordboeke herskryf het om die skool se naam op die gesogte trofee gegraveer te gekry het. 

Die span van die Jakarandastad het twee weke gelede met 'n sege van 22-15 vir die eerste keer ooit daarin geslaag om Monument van Krugersdorp om te dop. Die sege het ook verseker dat die Parkies tot die uitspeelrondes deurdring. 

Menlopark het verlede week die eerste keer sedert 2011 daarin geslaag om Garsfontein (72-40) te verslaan om sy plek in die eindstryd te bespreek. Dit was ook die Parkies se grootste sege ooit oor Garsies.

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Puntemakers: 

Hoërskool Menlopark 44 (10) - Drieë: Ulrich Wiese (2), Ruan Oosthuizen (2), Niel Beukes, Lohan Potgieter. Doelskoppe: Keanan Wessels (3), Enrique Courtriers. Strafdoele: Marcelle Deysel, Wessels. Helpmekaar-kollege 17 (17) - Drieë: Christiaan Bezuidenhout (2), Divan Esterhuizen. Doelskop: Tiaan Botes. 

Ander spanne: 

o.16: HTS Middelburg 31, Noordheuwel 26.

o.15: Helpmekaar 24, Monument 12.

o.14: Monument 23, HTS Middelburg 17.

[powr-comments id="afc003ad_1566113752775"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.