Vossies onttroon Eldos se Groen Drake as Virsekerbeker-kampioene

Written by Hannes Nienaber

NewsGChristiaanSmit School of Rugby | Vossies onttroon Eldos se Groen Drake as Virsekerbeker-kampioene - School of RugbyBen Vorster van Tzaneen het net-net genoeg gedoen om die Hoërskool Eldoraigne as kampioen van die Virsekerbeker se Plaat-afdeling te onttroon. Die Vossies het met 37-36 as oorwinnaars van die veld gestap om vir die eerste keer sedert 2010 'n titel in die gesogte reeks te verower.  

Nie eers 'n vierkuns drieë deur die Groen Drake se binnesenter, Waldo Noeth, kon sy span tot 'n tweede agtereenvolgende titel in die kompetisie aanvuur nie. Noeth was deurgans vuurwarm. 

Sy tweestryd met die Bloktruie se Christiaan Smit was een van die hoogtepunte in die eindstryd. Smit moes 'n groot deel van die seisoen langs die kantlyn weens 'n besering deurbring. 

Smit het self met 'n driekuns aan drieë vir Ben Vorster voor gevat. Hy het sy driekuns met 'n pragdrie voltooi toe hy die bal uit 'n speler van Eldos se hande gegryp en 60 meter vir sy drie genael het. Noeth het 31 van sy span se punte aangeteken wat ook vier doelskoppe en 'n strafdoel ingesluit het. 

Eldoraigne het verlede jaar die titel verower toe hy Noordheuwel van Krugersdorp met 40-29 in die eindstryd verslaan het. Ben Vorster se opmars na die titel is amper 'n sprokieseinde tot die span se seisoen na hulle verlede jaar nog in die Skild-kompetisie gespeel het en eintlik eers vanjaar hul voete in die Plaat-kompetisie moes vind. 

Die Vossies se heelagter, Meyer Vorster, het sy skopskoene aangehad en ook 'n belangrike rol daarmee in die eindstryd vertolk. Vorster het al vier die Buffels se drieë verdoel en ook drie strafdoele tussen deur die pale gejaag. 

Ben Vorster het teen rustyd 'n voorsprong van 16-8 geniet. Dit was Eldoraigne se disipline wat hom in die helfte in die steek gelaat het. Die skeidsregter, Hernus Coetzee, het sewe strafskoppe aan die Vossies toegeken in die helfte, terwyl die span slegs een afgestaan het.

Eldoraigne se haker, Luhan Oosthuizen, is ook deur Coetzee in die tweede helfte met 'n rooikaart van die veld gejaag. Eldoraigne moes vir drie minute met slegs 13 spelers klaarkom na die voorryman Edrich Reynecke vroeër koelkas toe gestuur is. 

Die Vossies het hierna sy voorsprong tot 37-22 gerek, voordat Noeth sy veggees ten toon gestel het en met twee verdoelde drieë die Groen Drake se terugvegpoging gelei het. 

Die span van Tzaneen moes sonder sy SA Skole A-span flank, Renzo du Plessis, klaarkom. Du Plessis se werksverrigting asook sterk lopies met die bal onder die arm gaan volgende jaar nog 'n hele paar spanne hoofbrekens besorg. 

Puntemakers: 

Ben Vorster 37 (16) - Drieë: Christiaan Smit (3), Tumisho Montyane. Doelskoppe: Meyer Vorster (4). Strafdoele: Vorster (3). Eldoraigne 36 (8) - Drieë: Waldo Noeth (4), Adriaan Botha. Doelskoppe: Noeth (4). Strafdoel: Noeth. 

Ander spanne: 

o.16: Hoërskool Nelspruit 20, Zwartkop 7.

o.15: Zwartkop 17, Marais Viljoen 8.

o.14: Marais Viljoen 13, Hoërskool Rustenburg 7.

[powr-comments id="06a80237_1566122723265"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.