Grey het weer geen gelyke vanjaar op skolevlak in Suid-Afrika nie

Written by Hannes Nienaber

NewsGFrancoKnoetze School of Rugby | Grey het weer geen gelyke vanjaar op skolevlak in Suid-Afrika nie - School of RugbyDaar sal nog lank oor Grey-kollege se sege van 51-28 oor Paul Roos Gimnasium in die Markotter-stadion in Stellenbosch gepraat word, behalwe natuurlik in die Eikestad waar die wedstryd so gou as moontlik vergeet sal wil word.

Die span van Bloemfontein het met die klinkende sege nie net daarin geslaag om die seisoen onoorwonne af te sluit nie, maar ook sy naam onder meer by die Grey-spanne van 1981, 1988 en 2007 gevoeg wat onder die beste eerstespanne tel wat die rugbyfabriek van die Rosestad tot dusver opgelewer het.  

Paul Roos moes teen rustyd voorgeloop het, maar Grey se loskopstut, Tielman Nieuwoudt, wou sy sonde van vroeër vergeld, terwyl die besoekers se heelagter, Franco Knoetze, ook ander planne gehad het. Nieuwoudt is koelkas toe na 'n skouerloop deur die skeidsregter, Nathan Swartz, op Paul Roos se haker, Meiring Ebersohn, gestuur.

Met speeltyd reeds vertreke het Paul Roos se skrumskakel, Xander Botha, by die klein kantjie omgeglip en ver genael voordat hy die linkervleuel, Andrew Pegg, vir 'n ampere seker drie weggesit het. Nieuwoudt het egter nooit moed opgegee nie en ook gewys dat hy oor bedrieglike vaart beskik. Hy het Pegg enkele meters voor die doellyn neergevel.

Pegg het die bal in die duikslag verloor en Knoetze het die bal op die doellyn opgepik en 'n volle 100m genael om aan Grey die skrale voorsprong van 22-21 met lemoentyd te gee. Die drie sal sekerlik nog baie na gekyk word en tel sonder twyfel onder een van die beste drieë op skolevlak vanjaar in Suid-Afrika. 

Nieuwoudt het meer as vergoed vir sy geelkaart en het selfs 'n paar keer soos 'n wafferse senter bresse in die span van die Eikestad se verdediging geslaan. Een hiervan het op die drie van Duan Ludik uitgeloop. Slegte nuus vir Grey se teenstanders is dat Nieuwoudt asook Knoetze volgende jaar steeds vir Grey-kollege in aksie sal wees. 

Dit is die eerste keer dat Grey 'n vyftigtal teen Paul Roos aanteken en is waarskynlik die eerste span in die geskiedenis wat dit kon vermag. Die sege is wel nie die grootste nog oor Paul Roos nie. Grey het in 2013 die Maroen-truie met 40-8 in Stellenbosch verslaan. Die vorige span van die Vrystaat wat 'n vyftigtal in die Markotter-stadion kon aanteken was die Vrystaatse span van Robert Ebersohn in 2007 toe hulle die Westelike Provinsie met 52-3 afgeslag het. 

Grey se losskakel, FC du Plessis, asook die makro-vleuel, Marcell Muller, was groot dorings in Paul Roos se vlees. Die span van die Rosestad se flank Deon le Roux verdien ook 'n klop op die skouer vir sy vertoning. Muller het twee keer die doellyn oorgesteek om die seisoen met 19 drieë vir die eerstespan af te sluit. 

Paul Roos se beste speler op die dag Jordan Venter (flank) het sy verskyning vanaf die plaasvervangersbank gemaak. Hy het behoorlik in die los gewoel. Die tuisspan se losskakel, Kade Wolhuter, het ook gedoen wat van hom verwag was en verdien ook 'n klop op die skouer. 

Die span van die Rosestad moes boonop sonder vyf nasionale skolespelers klaarkom wat vir die twee SA Skole-spanne in Wellington in aksie was. Grey se kaptein en agtsteman, George Cronjé, het die SA Skole-span tot 'n sege van 33-27 oor Engeland aangevoer. Die haker, André-Hugo Venter, en die loskopstut, Jan-Hendrik Wessels, was ook in die sege oor die Engelse in aksie. Sisonke Vumazonke (slot/flank) en Sonwabo Sokoyi (heelagter/vleuel) was vir die SA Skole A-span Saterdag teen Argentinië in aksie. 

Paul Roos se Tiaan Pretorius en Jarrod Cairns was ook vir die naasbestes in aksie, terwyl die slot Dylan du Leeuw vir die SA Skole-span uigedraf het.

Die skrikwekkende realiteit is dat die loesing veel groter kon gewees het indien Grey se stelskoppers nie hul skopskoene in Bloemfontein agtergelos het nie. Die skrumskakel, Juan-Dee Olivier het drie doelskoppe en 'n strafdoel skeef gekorrel. Du Plessis het ook twee doelskoppe gemis, terwyl Knoetze ook 'n doelskop skeef getrek het. Dit is 'n volle 15 punte wat op die veld agter gelaat is. 

FOTO: Ashley Vlotman/Gallo Images/Premier Interschools

Puntemakers: 

Grey-kollege 51 (22) - Drieë: Marcell Muller (2), JD Odendal, Deon le Roux, Franco Knoetze, Ian-Small Smith, Duan Ludik, FC du Plessis, Tiaan Fourie. Doelskoppe: Du Plessis (2), Knoetze. Paul Roos Gimnasium 28 (21) - Drieë: Ruben Labuschagne, André Smit, Jordan Venter, Cade Croy. Doelskoppe: Kade Wolhuter (4). 

Ander spanne:

o.19 - B: Bituas 24, Cherries 19. C: Peaches 48, Paul Roos 10. D: Playboys 26, Paul Roos 3 (onoorwonne). E: Packs 31, Paul Roos 14 (onoorwonne). F: Pigs 21, Paul Roos 15 (onoorwonne). G: Paul Roos 26, Camels 19. H: Crocks 19, Paul Roos 7.

o.16 - A: Paul Roos 29, Grey 26. B: Grey 15, Paul Roos 12. C: Grey 36, Paul Roos 35. D: Grey 24, Paul Roos 7. E: Grey 33, Paul Roos 17.

o.15 - A: Grey 39, Paul Roos 3. B: Grey 23, Paul Roos 20 (onoorwonne). C: Grey 24, Paul Roos 22. D: Grey 17, Paul Roos 14. E: Paul Roos 46, Grey 14.

o.14 - A: Grey-kollege 23, Paul Roos 17 (onoorwonne). B: Paul Roos 12, Grey 5. C: Grey 15, Paul Roos 8. D: Grey 50, Paul Roos 7. E: Paul Roos 24, Grey 21.

[powr-comments id="d7ff4399_1566148965800"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.