APCAN-reeks 'n gulde geleentheid vir skole ter voorbereiding van die 2020-seisoen

Written by Hannes Nienaber

ApcanSkoleReeks School of Rugby | APCAN-reeks 'n gulde geleentheid vir skole ter voorbereiding van die 2020-seisoen  - School of RugbyDie tweede APCAN Skole-reeks skop Saterdag op die velde van die Hoërskool Florida in Roodepoort. Die reeks bied die ideale geleentheid aan skoolspanne om hul voorbereidings vir die 2020 seisoen af te skop. 

Weens die aard van die reeks wat as voorbereiding vir volgende jaar dien mag slegs graad 11 leerlinge aan die toernooi deelneem. 

Saterdag se wedstryde op Florries se A-veld sal regstreeks via DigiTV.co.za gebeeldsend word. 

Die hoogtepunt van die eerste ronde wedstryde sal die kragmeting tussen die gasheer en die Hoërskool Linden wees. Die dag skop reeds om 08:00 af wanneer Die Adelaar en CBC Boksburg mekaar die stryd aansê.

CBC Boksburg het al 'n Springbok opgelewer in die gewese Bok-heelagter Conrad Jantjies. Florida spog met die huidige Springbok-losskakel, Elton Jantjies, as een van sy oud-leerlinge. En natuurlik het die Hoërskool Bekker van Magaliesburg onlangs die bydra van Marco van Staden tot die Suid-Afrikaanse span gelewer.

Die Hoërskool Bastion het ook al 'n Springbok opgelewer in die skrumskakel, Rudy Paige, wat ook op sy dag die SA Skole-span verteenwoordig het.

Daar sal 'n span tydens die reeks gekies word, wat later vanjaar 'n toer deur Argentinië sal onderneem. Vision Sports sal die toer organiseer, terwyl Monty Beyneveldt, Doom Gouws en die voormalige Cheetah- en Leeu-senter Alwyn Hollenbach sal as keurders dien. Hollenbach sal ook van sy energie tot die mikrofoon as kommentator tot van die wedstryde se beeldsending verleen.

Gouws het onlangs na 27 jaar as lid van die Noordvaal Skolevereniging se bestuur afgetree. Beyneveldt is 'n legende op skolevlak in die Wes-Rand en het jare lank HTS Nic Diedericks se eerstespan gebrei. 

Ander skole wat vanjaar aan die reeks deelneem sluit in HTS Nic Diedericks, Randpark, Bryanston High, Allen Glen, Roodepoort, Highlands North, Glen Harvey, Soweto Rugby Development, Carleton Jones, Trinityhouse (Randpark), Bergsig Akademie, Jan Viljoen van Randfontein, Bastion en Wonderfontein.

Saterdag, 24 Augustus 2019 se bepalings is: 

A-veld

08:00 - Adelaar vs CBC Boksburg
09:00 - HTS Nic Diedericks vs Bryanston
10:00 - Randpark vs Bekker
11:00 - Allen Glen II vs Roodepoort
12:00 - Florida vs Linden
13:00 - Highlands North vs Glen Harvey

B-veld

08:00 - Queen's High II vs Soweto Rugby Development
09:00 - Wonderfontein vs Carleton Jones
10:00 - Allen Glen vs Trinityhouse (Randpark)
11:00 - Bergsig Akademie vs Queen's High
12:00 - Bekker II vs Adelaar II

[powr-comments id="7e9dc533_1566397445866"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.