Wie gaan staande in die Marius Schoeman Sewes se o.17-toernooi bly

Written by Hannes Nienaber

MS7s-logo-2019 School of Rugby | Wie gaan staande in die Marius Schoeman Sewes se o.17-toernooi bly - School of RugbyWie gaan in die laaste ronde van die Marius Schoeman Sewes-toernooi in die Paarl nog staande bly? Die grootste skole-sewestoernooi in Suid-Afrika sal van 5 tot 7 September op Paarl Gimnasium se velde beslis word. 

Die toernooi is ongetwyfeld ook een van die taaistes en die vorige twee toernooie se tellings in die eindstryde getuig daarvan dat die span met die langste asem oor die nodige krag beskik om die uitklophou te plant. 

Verlede jaar se o.17-kampioen, die Hoër Jongenskool Paarl, kom in sy eerste wedstryd van vanjaar se toernooi teen Hermanus te staan. Die Boishaai Blitze sal nie sal nie hul teenstanders ligtelik opneem nie. 

Hermanus het tydens sy eerste wedstryd van die eerste Marius Schoeman-toernooi in 2017 vir Grey-kollege van Bloemfontein met 24-21 verras. Boishaai het verlede jaar in die eindstryd vir Grey met 24-5 die loef afgesteek om die kroon te dra. 

Saam met Boishaai in Groep D geloot is sy aartsvyand en gasheer, Paarl Gimnasium. Die vonke behoort dit behoorlik in die groep te spat. Die vierde span in Groep D is die Paarl Barbarians. 

Groep C kan as die sogenaamde "Groep van die Dood" erken word. Stellenberg, Garsfontein en Oakdale Landbou is saam met Douglas in die groep geloot. 

Die eerste wedstryd van die o.17-toernooi sal tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria en HTS Drostdy van Worcester beslis word. Die Hoërskool Tygerberg en Overberg voltooi Groep A se spanne. Dit sal die eerste keer wees dat Affies aan die toernooi deelneem. 

Die kampioen van 2017, Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch, is saam met die Hoërskool Durbanville, die Amdec Blitze en Parel Vallei in Groep B geloot. Paul Roos het Stellenberg met 29-7 in die eerste eindstryd platgeslaan. 

Die Marius Schoeman-toernooi is deel van die Twizza Sewesreeks wat deur die sportspromotor, Darryl Weir, georganiseer word. 

Die Groepe is: 

Groep A: Affies, HTS Drostdy, Tygerberg, Overberg.

Groep B: Paul Roos Gimnasium, Durbanville, Amdec Blitze, Parel Vallei.

Groep C: Stellenberg, Oakdale Landbou, Douglas, Garsfontein. 

Groep D: Hoër Jongenskool Paarl, Hermanus, Paarl Barbarians, Paarl Gimnasium. 

Groep E: Monument, Boland Landbou, Milnerton, VUKA SA Legends.

Groep F: Outeniqua, Noordheuwel, Paulus Joubert, Brackenfell. 

[powr-comments id="524dff38_1567100299298"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.