Grey-kollege sal nasionale sewestitel op sy tuisveld probeer verdedig

Written by Hannes Nienaber

NewsGKampioenKampioene School of Rugby | Grey-kollege sal nasionale sewestitel op sy tuisveld probeer verdedig - School of RugbyGrey-kollege van Bloemfontein sal van vandag af sy titel as nasionale seweskampioen op sy tuisveld in die Rosestad verdedig. Die land se voorste 12 sewes-skolespanne spook van Vrydag om 16:00 sake in die Kampioen van Kampioene-toernooi (o.17) uit. 

Grey het verlede jaar die titel verower toe hy die Hoër Jongenskool Paarl met 21-18 in 'n aksie belaaide eindstryd op Camp Discovery net noord van Pretoria die loef afgesteek het. Die gasheer is saam met die Hoërskool Grens en Hoërskool Alberton in Groep A geloot.

Die Allies is die laaste span wat vir die toernooi gekwalifiseer het. Die span van Alberton het verlede Saterdag in die halfeindstryd van die Benoni-been van die reeks wat by Brandwag aangebied is teen Waterkloof met 19-24 vasgeval. 

Helpmekaar-kollege van Johannesburg is as kampioen van die voorlaaste toernooi van die reeks gekroon na hy Klofies met 31-10 afgeransel het. 

Helpies sal ook in die Rosestad in aksie wees. Die span van die Goudstad kom teen Marlow Landbou en Lichtenburg in sy twee Groep B-wedstryde te staan. Die Liggies het onder die afrigting van Michael Bondesio goed tydens die Noordvaal Sewes-toernooi vertoon. 

Dit is jammer dat die Noordvaal-toernooi nie vanjaar deel van die gewilde sewesreeks was nie. Dan sou spanne soos EG Jansen (kampioen), Monument (naaswenners) en Ben Vorster van Tzaneen die Kampioen van Kampioene-toernooi se reeds indrukwekkende lys van deelnemers aangevul het. 

In Groep C is Westville Boys' High, HTS Middelburg en Heidelberg Volkskool saam geloot. Westville spog met 'n gedugte span, maar HTS Middelburg behoort ook sterk aanspraakmakers op die titel te wees. Die span van Middelburg het al Blitzbokke soos Kwagga Smith en JC Pretorius opgelewer. 

Die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley sal ook 'n sterk aanslag op die titel loots. Northerns het vanjaar tydens die Kimberley-been van die toernooi by Diamantveld alle teenstand voor hom weggevee. Hy het Grey-kollege se tweedespan met 24-0 in die eindstryd van dié toernooi verslaan. Die span van die Diamantstad is saam met Framesby en Hoërskool Rustenburg in Groep D geloot. 

Framesby kan ook sy stem dik maak op die toernooi. Die Hoër Jongenskool Paarl was sy titel as kampioen van die Marius Schoeman-toernooi behou het, het weer gekwalifiseer, maar sal ongelukkig nie in Bloemfontein in aksie wees nie. 

Paul Roos Gimnasium was in 2017 as die eerste kampioen van die toernooi gekroon na hy vir Waterkloof in die eindstryd op Camp Discovery met 21-17 verslaan het. 

Die bepalings (Vrydag, 18 Oktober 2019): 

A-veld

16:00 - Framesby vs Hoërskool Rustenburg; 16:20 - Marlow Landbou vs Lichtenburg; 16:40 - Westville Boys' High vs Heidelberg Volkskool; 17:00 - Grey-kollege vs Hoërskool Alberton; 17:20 - Noord-Kaap vs Framesby; 17:40 - Helpmekaar-kollege vs Marlow Landbou. 

B-veld

16:00 - HTS Middelburg vs Heidelberg Volkskool; 16:20 - Hoërskool Grens vs Hoërskool Alberton; 16:40 - Noord-Kaap vs Hoërskool Rustenburg; 17:00 - Helpmekaar vs Lichtenburg; 17:20 - Westville Boys' High vs HTS Middelburg; 17:40 - Grey-kollege vs Hoërskool Grens. 

[powr-comments id="dbc28afa_1571389104736"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.