Grey-kollege vir tweede jaar in 'n ry SA se beste skolesewes-span

Written by Hannes Nienaber

NewsGFrancoKnoetze School of Rugby | Grey-kollege vir tweede jaar in 'n ry SA se beste skolesewes-span - School of RugbyGrey-kollege het sy titel as kampioen van die nasionale Kampioen van Kampioene-toernooi op sy tuisveld in Bloemfontein suksesvol verdedig. Grey het 'n waardige teenstander in Westville Boys' High eers in die laaste ronde van die eindstryd met 26-17 laat harpuis ruik.  

Grey se Regan Izaks het met slegs vyftien sekondes oor in die eindstryd die finale spyker in Westville Boys' High se doodskis getimmer. Izaks het onder die pale gaan druk om 'n oorwinning buite die besoekers van Durban se bereik te plaas. 

Westville Boys' High se Pumi Xego het met ongeveer twee minute oor in die kragmeting 'n langafstand-drie afgerond om Grey se voorsprong na 19-17 te krimp.  

Grey het met 'n voorsprong van 14-10 gaan rus danksy die akkurate doelskopwerk van Franco Knoetze. Albei spanne het twee keer die doellyn in die eerste helfte oorgesteek met slegs Knoetze se verdoelwerk wat die verskil op die telbord was. 

Albei Westville Boys' High se drieë in die helfte is deur sy sterspeler, Larry Nkonki, gedruk. Hy het deurgans met sy krag en vaart probleme vir die tuisspan besorg. Grey se Sisonke Vumazonke het ook 'n kragtige vertoning in die eindstryd gelewer.

Grey het sy plek in die eindstryd met 'n oorwinning van 38-12 oor Marlow Landbou in die halfeindronde bespreek. Die Wolblitse van Cradock het met hul spel beïndruk voordat hulle teen die uiteindelike kampioene vasgeval het. Westville Boys' High moes ietwat harder werk om HTS Middelburg met 33-28 in die ander halfeindstryd te troef. 

Hoërskool Rustenburg het in die Plaat-afdeling koning gekraai deur 'n begeesterde Hoërskool Alberton met 26-17 in die eindstryd te klop. In die eindstryd van die Bowl-afdeling het Noord-Kaap met 'n sege van 36-7 oor Helpmekaar-kollege oor te veel skietgoed beskik. 

In die o.15-afdeling het Boland Landbou met die louere weggestap toe hy Helpmekaar-kollege met 24-5 in die Beker-eindstryd kaf gedraf het.  

FOTO: Morgan Piek

Al die uitslae: 

Groep A: Hoërskool Alberton 19, Hoërskool Grens 19; Grey-kollege 34, Hoërskool Alberton 7; Grey-kollege 55, Hoërskool Grens 0.

Groep B: Marlow Landbou 45, Lichtenburg 19; Lichtenburg 21, Helpmekaar-kollege 19; Marlow Landbou 17, Helpmekaar-kollege 14.

Groep C: HTS Middelburg 21, Heidelberg Volkskool 17; Westville Boys' High 24, Heidelberg Volkskool 19; Westville Boys' High 28, HTS Middelburg 14.

Groep D: Hoërskool Rustenburg 31, Framesby 10; Noord-Kaap 19, Hoërskool Rustenburg 19; Framesby 21, Noord-Kaap 7.

KWARTEINDRONDE - BEKER: Grey-kollege 50, Lichtenburg 0; Marlow Landbou 26, Hoërskool Alberton 7; Westville Boys' High 24, Framesby 21; HTS Middelburg 26, Hoërskool Rustenburg 19.

HALFEINDRONDE - BEKER: Grey-kollege 38, Marlow Landbou 12; Westville Boys' High 33, HTS Middelburg 28. PLAAT:  Hoërskool Alberton 19, Lichtenburg 12; Hoërskool Rustenburg 33, Framesby 14. BOWL: Helpmekaar 21, Hoërskool Grens 19; Noord-Kaap 19, Heidelberg Volkskool 14.

UITSPEELWEDSTRYDE - 3/4: HTS Middelburg 28, Marlow Landbou 12. 7/8: Framesby 29, Lichtenburg 10.

EINDSTRYDE - BEKER: Grey-kollege 26, Westville Boys' High 17. PLAAT: Hoërskool Rustenburg 26, Hoërskool Alberton 17. BOWL: Noord-Kaap 36, Helpmekaar 7. SKILD: Hoërskool Grens 10, Heidelberg Volkskool 0.

[powr-comments id="06957fb5_1571551925880"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.