Wildeklawer se bepalings vir 2020 se 12de toernooi bekend

Written by Hannes Nienaber

Wildeklawer12 School of Rugby | Wildeklawer se bepalings vir 2020 se 12de toernooi bekend - School of RugbySkolerugby-ondersteuners kan solank hulle lippe aflek vir die 2020-seisoen. Wildeklawer het sy bepalings vir sy 12de toernooi bekend gemaak en daar kan geen twyfel bestaan dat die toernooi in Kimberley steeds die voorste skolerugby-toernooi in Suid-Afrika is nie.  

Die toernooi vind volgende jaar van 24 tot 27 April op die velde van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley plaas.

Die toernooi sal in 2020 met seker die grootste wedstryd afskop, wat nog die aanvang van die rugbyfees ingelui het. Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria sal teen die Hoër Jongenskool Paarl in die openingswedstryd op die Vrydagaand te staan kom. Affies vier boonop se 100ste bestaansjaar volgende jaar en van die botsings tydens Wildeklawer tussen die twee skole tel onder van die voorste skolewedstryde die afgelope dekade.

Die Saterdag het 'n hele paar belowende kragmetings waarna kykers kan uitsien. Die land se voorste span van 2019, Grey-kollege, kom teen Garsfontein van Pretoria te staan. Wedstryde tussen die twee spanne lewer altyd opwindende hardlooprugby op vanweë die twee skole se spelpatrone. 

Paarl Gimnasium wat vanjaar SA se naasbeste span was, kom teen die Virsekerbeker-kampioen van 2019, Menlopark van Pretoria te staan. Monument van Krugersdorp se ontmoeting teen Outeniqua van George behoort ook die vonke te laat spat.

In 'n wedstryd wat Waterkloof se nuwe Direkteur van Rugby, Lukas Holtzhausen, sal na uitsien en ook 'n paar slapelose nagte sal gee kom die Klofies teen sy voormalige skool Oakdale Landbou te staan. 

Die groot trekpleister in die tweede ronde wedstryde van die toernooi sal soos vanjaar die wedstryd tussen Grey-kollege en Paarl Gimnasium wees. Kragmetings tussen die twee skole is altyd kliphard en volgende jaar sin sal geen uitsondering wees nie. 

Paarl Boishaai sal ook vir die eerste keer ooit teen Garsfontein te staan kom. Die twee skole sal wel welbekend vir mekaar wees. Abner van Reenen het vanuit Garsies die SA Skole A-span gehaal in 2015, voordat hy in 2016 Boishaai tot 'n onoorwonne seisoen gehelp het. Dit terwyl AJ Johnson verlede jaar vanaf Boishaai na Garsfontein geskuif het om sy rugbyloopbaan 'n hupstoot te gee. 

Die gasheer, Diamantveld, sal weet watter moeilike taak in sy twee wedstryde gedurende die toernooi op hom sal wag. Diamonds kom in sy eerste kragmeting teen Boland Landbou te staan, terwyl hy ook teen Oakdale Landbou sake sal uitspook. Die span van Kimberley het die afgelope paar jaar klokslag teen Oakdale Landbou tydens dié se jaarlikse rugbyweek net buite Riversdal kragte gemeet. 

Affies se tweede kragmeting van die toernooi is teen Outeniqua. Na die twee spanne se hewige tweestryd tydens vanjaar se Noord/Suid-toernooi in Pretoria waarin Affies koning gekraai het, kan daar verwag word dat die Kwaggas 'n appeltjie met die Wit Bulle te skil het. 

Gepraat van 'n appeltjie te skil - Menlopark sal ook sake wil regstel na hy twee jaar gelede 'n drag slae deur Boland Landbou tydens die Loftus Prestige Rugbydag in Pretoria in die hoofwedstryd toegedien is. Maklik gaan dit egter nie wees nie, want die span van die Agter-Paarl word nie sommer net omgedop om op die maag gekielie te word nie. 

Die bepalings is: 

Vrydag, 24 April 2020

Affies vs Hoër Jongenskool Paarl

Saterdag, 25 April 2020 

Grey-kollege vs Garsfontein
Glenwood vs Welkom Gimnasium
Monument vs Outeniqua
Paul Roos Gimnasium vs Helpmekaar
Oakdale Landbou vs Waterkloof
Diamantveld vs Boland Landbou
Paarl Gimnasium vs Menlopark
Framesby vs HTS Drostdy
Stellenberg  vs Noord-Kaap

Maandag, 27 April 2020

Grey-kollege vs Paarl Gimnasium
Hoër Jongenskool Paarl vs Garsfontein
Paul Roos Gimnasium vs Glenwood
Outeniqua vs Affies
Boland Landbou vs Menlopark
Monument vs HTS Drostdy
Oakdale Landbou vs Diamantveld
Waterkloof vs Stellenberg
Welkom Gimnasium vs Helpmekaar
Framesby vs Noord-Kaap

[powr-comments id="ff017b55_1571714855743"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.