Wit Bulle skop Eeufeesjaar met sege oor Helpmekaar af

Written by Hannes Nienaber

NewsGAffies School of Rugby | Wit Bulle skop Eeufeesjaar met sege oor Helpmekaar af - School of RugbyDie Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se eersterugbyspan het ondanks 'n paar benoude oomblikke daarin geslaag om sy seisoen met 'n 27-17 sege oor Helpmekaar-kollege op sy tuisveld in Pretoria af te skop. 

Die Witbulle het deurgans die meeste van die balbesit asook die gebiedsvoordeel geniet. Die span het soos dit maar dikwels met die eerste wedstryd van 'n seisoen die geval is net die bal onnodig verloor. Daar was heelwat 50/50 aangeë wat nie die hande gevind het nie. 

Affies het teen lemoentyd 'n skrale voorsprong van 10-7 opgebou. Die Wit Bulle moes egter teen die omdraaislag reeds 'n meer gerieflike voorsprong geniet het. Die Wit Bulle se haker, Keegan Potgieter, was woelig in die los en was sy span se beste speler in die eerste helfte.  

Hy het soos 'n tasmaniese duiwel oral opgeduik en elke keer etlike meters veld gewen wanneer hy die bal onder die arm vasgeknyp het. 

Dit moet genoem word dat dit 'n uiters fisieke wedstryd was. Dit was reeds Helpmekaar se tweede wedstryd van die seisoen na hy vir Voortrekker van Bethlehem met 20-12 verlede week getroef het. Helpies het ondanks die feit nes Affies nog nie veel tyd gehad om aan hul spel te skaaf nie. 

Helpies het met ongeveer vyf minute oor in die wedstryd na 'n breekslag deur sy kantman Tyler Skudder gaan druk om die telling op 17-elk gelyk te trek. Die beweging is deur die agtsteman, Nathan Lainis, afgerond. Die span van die Goudstad se losskakel, Sebastine Watney, kon ongelukkig nie met die doelskop slaag aan sy span vir die eerste keer in die wedstryd die voortou te gee nie. 

Affies het hierna met nuwe ywer gespeel en die heelagter, Dieter Crafford, het met twee minute se speeltyd oor met 'n strafdoel seker gemaak dat sy span weer die voortou neem. Die Wit Bulle se flank Jacques Marais het met speeltyd reeds vertreke vanaf 'n rolmaalbeweging oorgeval om meer aansien aan sy span se telling te verskaf. 

Vir Affies het sy agtsteman, Willie Potgieter, en slot Jakkie Eloff ook goeie vertonings voorlangs opgedis. Agterlangs kan die skrumskakel, Johan Muller, en die vleuel Quewin Nortje tevrede met hul vertonings voel. Die Wit Bulle het sonder die haastige vleuel Bjorn van Wyk gespeel wat Suid-Afrika se o.18-sewesspan verlede week gehelp het om sy titel as kampioen van die Capricorn 7's in Windhoek suksesvol te verdedig. 

Van Wyk was wel in die tweedespan se wedstryd in aksie en het gewys dat hy gewis op 'n hoër vlak moet speel. Vir Helpies verdien Skudder, Melbirt van der Spuy (senter), Zack van Zyl (slot) en Diego Cupido (vleuel) elk 'n klop op die skouer. 

FOTO: William Brown Fotografie

Puntemakers: 

Affies 27 (17) - Drieë: Willie Potgieter, Kyle Liebenberg, Jacques Marais, Jaco du Toit. Doelskoppe: Dieter Crafford (2). Strafdoel: Crafford. Helpmekaar-kollege 17 (7) - Drieë: Zack van Zyl, Melbirt van der Spuy, Nathan Lainis. Doelskop: Sebastine Watney. 

Ander spanne - o.16: Affies 20, Helpmekaar 10. o.15: Affies 40, Helpmekaar 0. o.14: Affies 29, Helpmekaar 0. 

[powr-comments id="f894b65a_1583655785995"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.