Bloues verras St Alban's, terwyl Edwards en Balfour baljaar vir Jansies

Written by Hannes Nienaber

NewsGKroonstad School of Rugby | Bloues verras St Alban's, terwyl Edwards en Balfour baljaar vir Jansies - School of RugbyDie Hoërskool Kroonstad het vriend en viand verras deur St Alban’s College van Pretoria met 27-19 tydens die openingswedstryd van die jaarlikse AFGRI Prestige Rugbydag in die Jakarandastad af te stof.

Blouskool se losskakel, Arno Swart, het met ‘n strafdoel van ongeveer 45 meter met minder as vyf minute oor in die kragmeting geslaag om sy span met 22-29 die eerste keer voor in die wedstryd te laat loop.

Bloues se binnesenter, Tshepo Chabeli, het kort voor die einde vir die tweede keer die doellyn oorgesteek om die uitslag van die wedstryd bo verdenking te plaas. Chabeli het self ‘n goeie dag in die middelveld beleef.

Die span van Kroonstad se beste speler op die dag was egter sy haker, Cornel Saunders. Hy het met sy inklimspel in die los beïndruk en ook met sy fisieke verdediging sy span op die voorvoet gekry.

St Alban’s College het met die omdraaislag ‘n voorsprong van 19-14 geniet. Vir die span van Pretoria kan sy agtsteman, Chris Fox, tevrede met sy vertoning voel.

Die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg het sy seisoen met ‘n gemaklike sege van 65-0 oor ‘n Uitnodigings XV-tal afgeskop. Die Uitnodigingspan is ‘n eintlik die Hoërskool Staatspresident CR Swart van Pretoria.

Die Jansies het teen rustyd reeds ‘n stewige voorsprong van 27-0 opgebou en slegs na ‘n hoër rat in die tweede helfte oorgeskakel. Die span se heelagter, Jason Edwards, het die Boksburgers se eerste drie drieë gedruk om sy driekuns aan drieë te voltooi.

Edwards het ook vyf van sy span se 11 drieë verdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 25 punte tot die oorwinning. Die span se buitesenter, Keagan Balfour, het ook ‘n driekuns aan drieë behaal. Balfour is vir sy aandeel in die sege as Speler van die Wedstryd aangewys.

Hoewel dit 'n drag slae was behoort CR Swart vanjaar in die Blou Bulle se Afdeling 3-liga skade te maak. Die span se heelagter, Gopolang Makena, het 'n hele paar keer gevaarlike lopies vanuit die laaste vesting geloots. Die span het ook nooit handdoek ingegooi nie. 

Die Jansies se volgende wedstryd is Vrydag tydens die Noord/Suid-toernooi teen die Hoërskool Stellenberg.

FOTO: Frans Lomnbard/Actionpix

Puntemakers:

Hoërskool Kroonstad 27 (14) – Drieë: Tshepo Chaneli (2), Cezanne Ellis, Quintin Marais. Doelskoppe: Arno Swart (2). Strafdoel: Swart. St Alban’s College 19 (19) – Drieë: Marcio dos Santos, Justin Hugo, Tanaka Ndabambi. Doelskoppe: Tim Frederix (2).

EG Jansen 65 (27) – Drieë: Jason Edwards (3), Keagan Balfour (3), Jaden du Preez (2), Giovanni van Eeden, Aidan Oosthuizen, Sheldon Diemieniet. Doelskoppe: Edwards (5). Uitnodigings XV-tal 0.

[powr-comments id="ac1773c1_1584181951971"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.