Grey-kollege maak dit drie uit drie teen besoekers

Written by Hannes Nienaber

NewsGJeanSmith School of Rugby | Grey-kollege maak dit drie uit drie teen besoekers - School of RugbyDit is nie aldag dat 'n skool se rugbyspanne met drie skole se eersterugbyspanne afreken nie, maar Grey-kollege is nie 'n normale skool nie. 

Grey se eerstespan het oor heeltemal te veel skietgoed vir Duineveld van Upington beskik en die besoekers met 92-7 afgeransel. Grey het teen die omdraaislag reeds 'n gemaklike voorsprong van 36-0 opgebou. 

Die span se binnesenter, Jean Smith, het twee van sy span se 14 drieë afgerond en ook tien daarvan verdoel vir 'n persoonlike bydrae van 30 punte. Franco Knoetze (heelagter), Sisonke Vumazonke (agtsteman) en Gert Steyn (buitesenter) het almal ook dubbelle driedruk-plesier ervaar. 

Grey se volgende kragmeting is komende Vrydag teen Menlopark in Pretoria tydens die Noord/Suid-toernooi. Die span van die Jakarandastad sal bekommerd oor sy ontmoeting met Suid-Afrika se voorste skolespan wees. 

Grey se naasbestes het Jim Fouché se trots met 48-10 kaf gedraf. JF het moedig geveg en sou met die omdraaislag met die telling 22-10 in die Cherries se guns gevoel het dat hul nog in die wedstryd is. 

Die Cherries se linkervleuel, Diego Lottering, het 'n uitstekende dag op die rugbyveld beleef. Hy het vier keer 'n draai agter JF se doellyn gaan maak en ook tydens die eerstespan se wedstryd vanaf die plaasvervangingsbank 'n verskyning gemaak om sy vyfde keer vir die dag oor die doellyn te skuif.

JF se Revaldo Maurice (losskakel) asook albei senters, Janco Prinsloo en Zane Bester, het tyd gedurende die wedstryd in die koelkas deurgebring. Ongelukkig is dit moeilik om teen Grey met 15-manne te speel, maar indien jy vir amper 30 minute met net 14 manne moet klaarkom raak dit 'n onbegonne taak. 

Bester was weer uitmuntend. Hy het verlede jaar die Vrystaatse Akademie-span verteenwoordig en sal 'n sterk aanspraakmaker op 'n plek in die Blikore se Cravenweek-span na Port Elizabeth te wees. JF se heelagter, Behan Vermaak, het ook op sy goeie vertoning die afgelope paar weke voortgebou. 

Voorlangs het die twee voorrymanne, Henco Gerber en Thato Lecoko, goed geskrum, terwyl die agtsteman, Danston Cloete, ook 'n goeie wedstryd beleef het. 

Grey-kollege se derdespan, die Peaches, het die Hoërskool Upington met 24-12 geklop. 

FOTO: Morgan Piek Fotografie

Puntemakers:

Grey-kollege 92 (36) - Drieë: Franco Knoetze (2), Jean Smith (2), Sisonke Vumazonke (2), Gert Steyn (2), Joubert Schoeman, Paschal Ekeji, Danie Louw, Juann Else, Merwe Olivier, Diego Lottering. Doelskoppe: Smith (10). Duineveld 7 (0).  

Cherries 48 (22) - Drieë: Diego Lottering (4), Merwe Olivier (2), SP van Heerden. Doelskoppe: Regan Izaks (4). Strafdoel: Izaks. Jim Fouché 10 (10). Drie: Behan Vermaak. Doelskop: Ryan George. Strafdoel: George. 

Peaches 24 - Drieë: Tshepo Mbikayi, Cyrril van Heerden, Jayden Smiles, Drian Opperman. Hoërskool Upington 12

[powr-comments id="4026a921_1584257697932"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.