Noord/Suid kan vanjaar vir vele hoogtepunte sorg

Written by Hannes Nienaber

NoordSuid2019 School of Rugby | Noord/Suid kan vanjaar vir vele hoogtepunte sorg - School of RugbyOnder unieke omstadighede beloof die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi om vanjaar weer een van die hoogtepunte op die skolerugby kalender te wees. Die toernooi sal vanjaar tussen 27 April en 1 Mei by die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria aangebied word. 

Affies sou verlede jaar ook die toernooi aangebied het, voordat die organiseerders weens die Coronavirus-pandemie gedwing was om die 2020-weergawe van die toernooi af te stel. Affies het verlede jaar sy 100ste bestaansjaar gevier. 

Nie minder as 18 van die land se voorste skolespanne asook hul naasbestes sal in die Jakarandastad in aksie wees. Die gasheer sal in die hoofwedstryd van die eerste dag teen Oakdale Landbou van Riversdal te staan kom. Die vernaamste voorwedstryd van die dag behoort ook vir heelwat vuurwerk te sorg met Grey-kollege wat vir Menlopark die stryd sal aansê.

En dan natuurlik het kragmetings tussen Paarl Gimnasium en Garsfontein op vorige toernooie nog elke keer vir baie opwinding gesorg. Monument van Krugersdorp, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, sal ook op die eerste dag in aksie wees wanneer hy en Stellenberg teen mekaar te staan sal kom. 

Die hoofwedstryd van die tweede dag tussen Helpmekaar-kollege en Outeniqua se Kwaggas behoort ook een van die hoogtepunte van die toernooi te wees. Helpies het twee jaar in 'n ry oor die laaste hekkie van die Virsekerbeker se Beker-afdeling gestruikel, terwyl die Kwaggas altyd 'n span is om mee rekening te hou.

Garsfontein se tweede wedstryd sal teen Oakdale Landbou op die derde dag van die toernooi wees. Dit sal ook die hoofwedstryd van die voorlaaste dag wees. Die enigste ander eerstespan-wedstryd van dié dag sal tussen HTS Middelburg se Rooi Bulle en Stellenberg wees.

Op die laaste dag is die hoofmaal 'n tweestryd tussen Affies en Welkom Gimnasium. Die span van Welkom speel altyd opwindende hardlooprugby en behoort die Wit Bulle se verdediging behoorlik op die proef te stel. 

Die kragmeting wat egter die meeste belangstelling op die dag sal lok is die tussen Monument en die Hoër Jongenskool Paarl om 12:00. Boishaai het die afgelope paar jaar Monnas se nommer gehad. Die twee spanne het verlede jaar ook in die hoofwedstryd van Porterville se jaarlikse sportdag gespeel met die manne van die Paarl wat naelskraaps met 17-10 die septer geswaai het. 

Die bepalings is: 

Dinsdag, 27 April 2021 

13:00 - HTS Middelburg vs Duineveld
14:30 - Monument vs Stellenberg
16:00 - Garsfontein vs Paarl Gimnasium
17:30 - Menlopark vs Grey College
18:00 - Affies vs Oakdale Landbou

Woensdag, 28 April 2021

14:30 - Waterkloof vs Durbanville
16:00 - EG Jansen vs Welkom Gimnasium
17:30 - Paarl Boys' High vs Noordheuwel
19:00 - Helpmekaar vs Outeniqua

Vrydag, 30 April 2021

18:00 - HTS Middelburg vs Stellenberg
19:30 - Garsfontein vs Oakdale Landbou

Saterdag, 1 Mei 2021

09:00 - Noordheuwel vs Durbanville
10:30 - Helpmekaar vs Paarl Gimnasium
12:00 - Monument vs Paarl Boys' High
13:30 - Waterkloof vs Duineveld
15:00 - Menlopark vs Outeniqua
16:30 - Grey College vs EG Jansen
18:00 - Affies vs Welkom Gimnasium

[powr-comments id="16d2d96c_1615261367396"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.