Die Cravenweek sal vir die tweede agtereenvolgende jaar nie aangebied word nie

Written by Hannes Nienaber

Craven_Week School of Rugby | Die Cravenweek sal vir die tweede agtereenvolgende jaar nie aangebied word nie - School of RugbyDaar sal vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer nie 'n Cravenweek gehou word nie.

'n Brief aan die unies deur SA Rugby se uitvoerende bestuurder, Jurie Roux, het hulle ingelig dat die vereniging nie vanjaar die toernooi sal aanbied nie. Die onderskeie skoleverenigings word wel aangemoedig om onder mekaar steeds provinsiale wedstryde te reel. 

Verskeie unies se skoleverenigings het reeds aangedui dat hulle nie vriendskaplike provinsiale wedstryde gaan skeduleer indien daar nie 'n toernooi vanjaar aangebied gaan word nie. 

Die besluit deur SA Rugby beteken dat daar vanjaar geen amptelike provinsiale toernooi aangebied sal word nie. Die Cravenweek is verlede jaar vir die eerste keer sedert sy ontstaan in 1964 weens die Covid-19 pandemie nie aangebied nie.

SA Rugby het waarskynlik geen keuse gehad om die besluit te neem nie. Die feit dat die derde vlaag van die virus in Suid-Afrika nou eers provinsies soos die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal tref sou 'n impak op die besluit gehad het. Verskeie provinsies kon nog nie eers proewes hou weens die uitwerking van die pandemie nie.

Daarby is skole soos Grey-kollege en Paul Roos Gimnasium gedwing om vir 'n tydperk weens positiewe gevalle te sluit. Boland moes verlede week sy Cravenweek-proewe ook kanseleer. Die feit dat die matrieks reeds besig met hul rekord-eksamens is sou waarskynlik ook 'n rol in die besluit gespeel het. 

Die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereneging (SASRA) het vandag 'n vergadering om onder andere die pad vorentoe vir 2021 te bespreek. Die vereniging word gelei deur sy voorsitter, Noel Ingle, en sal waarskynlik teen more 'n verklaring oor die aangeleentheid uitreik.

Die Cravenweek sou aanvanklik vanjaar deur die Hoërskool Monument in Krugersdorp aangebied gewees het. Dit sou een van die hoogtepunte van die skool se 100ste bestaansjaar vieringe gewees het. Daar was nog nie sekerheid na die Cravenweek tot Oktober uitgeskuif was, of Monnas steeds die toernooi sou aanbied nie. 

[powr-comments id="eab076a1_1629817581522"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.