Share

NewsG StephanvdBankDaar was heelwat drama en senutergende oomblikke in die kwarteindrondes van die Tuks-reeks.

Die Nelspruit Rhinos se losskakel, Stephan van der Bank, se senuwees onder druk was weer goud werd vir sy span in sy wedstryd teen Eldoraigne. Van der Bank het met speeltyd reeds verstreke 'n strafdoel van tien meter binne Eldoraigne se halfgebied ongeveer 15 meter vanaf die kantlyn oorgeklits om aan sy span die naelskraapste van seges (26-25) te besorg.

Van der Bank het verlede jaar in die halfeindstryd van die reeks teen EG Jansen van Boksburg ook onder hoe druk met 'n strafdoel vir sy span 'n plek in die eindstryd bespreek. Van der Bank het 16 van sy span se punte teen Eldoraigne met sy skopskoen aangeteken.

Die Rhinos se Speler van die Westryd was egter hul loskopstut, Banele Mthenjane. Hy het in die los gewoel en was ook 'n anker in die skrums. Buiten die twee het die slot Marius Slabbert, flank Renier Troskie, skrumskakel Joa Christovam en vleuel Reinhardt Roets ook goeie wedstryde beleef.  

Marcel Venter het 'n uitsonderlike prestasie in die wedstryd behaal. Die vleuel van het vanaf die plaasvervangersbank sy verskyning op die veld gemaak en steeds daarin geslaag om 'n driekuns aan driee te behaal. Eldoraigne het met die omdraaislag 'n voorsprong van 16-9 geniet. 

Monument het sy kwarteindstryd teen HTS Middelburg in Nelspruit met 14-12 gewen. Die Rooi Bulle het teen rustyd met 9-0 voorgeloop danksy drie strafdoele deur sy losskakel, Morne Sonnekus. 

Monnas is in die tweede helfte 'n strafdrie toegeken na die skeidsregter bevind het dat HTS Middelburg se haker, Duard Willemse, 'n aangee afgeklap het. Monnas se haker, Morne Brandon, het daarna ook die doellyn oorgesteek om aan sy span die oorwinning te besorg. 

HTS Middelburg het vir lank kamp in Monnas se gebied opgeslaan, maar kon net nie al die druk in driee omskep nie. Monnas het self 'n hele paar geleenthede om punte aan te teken deur hul vingers laat glip. Die span van Krugersdorp se agtsteman, PJ Jacobs, was uitstekend. Hy is voorlangs goed deur die slot Humprey du Randt bygestaan. 

Agterlangs het die heelagter, Dandre Prinsloo, met sy teenaanvalle vir HTS Middelburg 'n hele paar keer laat bontstaan. Die Rooi Bulle se hele span verdien 'n klop op die skouer vir hul vertoning. Monnas is die enigste skool met vier spanne wat in die halfeindronde van die reeks in aksie sal wees. 

Garsfontein het in die Jakaranda-derby teen Menlopark in die LC de Villiers-stadion met 41-25 koning gekraai. Dit was veral die spel van sy buitesenter, Diego Appollis, wat die verloorspan probleme besorg het. Die Garsie Bere het met die vertoning gewys dat hulle sonder twyfel 'n sterk aanspraakmaker op vanjaar se titel is.

Garsies se slot Jordan van Dyk het self 'n goeie wedstryd beleef, terwyl Menlopark se agtsteman, Divan Venter, meer as tevrede met sy vertoning kan voel. 

Garsfontein sal in die halfeindronde teen Monnas te staan kom. Nelspruit se Rhinos sal in die ander halfeindstryd teen EG Jansen te staan kom. Die span van Boksburg het in die Oos-Rand derby teen Kemptonpark oortuigend met 44-15 as oorwinnaars van die veld gestap. 

Die Jansies se agtsteman, Carson Koekemoer, het Kempies met sy fisieke spel hoofbrekens besorg. Agterlangs was die losskakel, Ruben Beytell, soos gewoontlik skitterend. 

Transvalia het danksy 'n drie naby aan die einde van sy wedstryd teen die Hoerskool Rustenburg deur Reinard Jordaan 'n naelskraapse sege van 42-41 in 'n opwindende wedstryd behaal. 

Puntemakers: 

Hoërskool Nelspruit 26 (9) - Drieë: Marius Slabbert, Banele Mthenjane. Doelskoppe: Stephan van der Bank (2). Strafdoele: Van der Bank (4). Eldoraigne 25 (16) - Drieë: Marcel Venter (3), Rian Vorster. Doelskop: Riaan Burger. Strafdoel: Burger.

Monument 14 (0) - Drieë: Morne Brandon, Strafdrie. Doelskop: Luke Rossouw. HTS Middelburg 12 (9) - Strafdoele: Morne Sonnekus (4).

Garsfontein 41 (10) - Drieë: Diego Appollis (2), Juandre Scheepers, Thian Thysse, Gustav Meyer, Johandre Buitendach. Doelskoppe: Barry Schoombee (3), Wesley Thompson. Strafdoel: Schoombee. Menlopark 25 (8) - Drieë: Werner Nel (2), Bernard van der Linde, Dirk Thuynsma. Doelskop: Nel. Strafdoel: Nel.  

EG Jansen 44 (22) - Drieë: Ruben Beytell (2), Hugo Claassen, Jonathan O'Neill, Wesley Noeth, Franco van Eeden, Sheldon Rivabello, Craig Hutchinson. Doelskoppe: Beytell (2). Kemptonpark 15 (3) - Drieë: Mikhail Blake, Chris Booysen. Doelskoppe: Blake. Strafdoel: Blake. 

Hoërskool Pietersburg 13 - Drieë: Christiaan Edwards, Jaco Mulder. Strafdoel: Marten Austen. Hoërskool Klerksdorp 7.

Transvalia 42 - Drieë: Mpho Ntsane (2), Franco Pienaar, Elrich Louw, Reinard Jordaan, Raynardt Nel, Calvin van Zyl, Franco van Wyk. Doelskop: Zian de Jager. Hoërskool Rustenburg 41.

Ander spanne:

o.16: Transvalia 61, EG Jansen 21; Menlopark 58, Garsfontein 5; Eldoraigne 17, Nelspruit 12;  Klerksdorp 19, Pietersburg 15; Kemptonpark 31, Rustenburg 15.

o.15: Transvalia 34, Rustenburg 17; Menlopark 22, EG Jansen 22;Garsfontein 5, Kemptonpark 5;  Monument 17, Nelspruit 3; HTS Middelburg 13, Pietersburg 0.

o.14: Menlopark 82, EG Jansen 0; Rustenburg 15, Transvalia 13; Monument 24, Nelspruit 18; Kemptonpark 24, Garsfontein 12; Pietersburg 19, Florida 12; Eldoraigne Klerksdorp.

You have no rights to post comments