Monnas sal Tuks-reeks titel teen EG Jansen verdedig

Written by Hannes Nienaber

NewsG_DylanSchwartz School of Rugby | Monnas sal Tuks-reeks titel teen EG Jansen verdedig - School of RugbyDr. EG Jansen van Boksburg se eerste rugbyspan het Saterdag in die halfeindronde van die Tuks-reeks teen die Hoërskool Nelspruit op Menlopark se veld vlam gevat. EG Jansen het ‘n klinkende sege van 69-26 behaal.

Die Jansen-bom het die Rhinos hard in die eerste helfte getref met die wenspan wat met die omdraaislag reeds ‘n meer as gerieflike voorsprong van 47-14 opgebou het. Die koël was dus lank voor rustyd reeds deur die kerk.

Die Jansies se senter Dylan Schwartz was die groot held in die oorwinning. Hy het 29 van sy span se punte via twee drieë, agt doelskoppe en ‘n strafdoel aangeteken. Die losskakel, Ruben Beytell, asook die heelagter, Hugo Claassen, het elk ook dubbelle driedruk-plesier ervaar.

EG Jansen met Schwartz, Beytell en Claassen aan die spits het net te veel vrae aan die Rhinos se verdediging gevra. Voorlangs het die slot Reinhardt Venter en agtsteman, Carson Koekemoer, ook skitterende vertonings opgedis. Nelspruit het in die tweede goed teruggeveg, maar dit was reeds te laat.

Nelspruit se losskakel, Stephan van der Bank, kan tevrede met ‘n bestendige vertoning voel. Sy skakelmaat, Joao Christovam, was waarskynlik hul span se beste speler in die nederlaag.

Monument van Krugerdorp sal sy titel as kampioen in die eindstryd verdedig na hy vir Garsfontein met 45-21 in die ander halfeindstryd verslaan het.

Dit was ‘n uiters fisieke wedstryd waarin Monnas met sy agtsteman, PJ Jacobs, aan die spits die oorhand voorlangs gehad het. Die groot slot Stephan le Roux en flank Franco Schutte verdien ook ‘n klop op die skouer vir hul vertonings.

NewsG_MonnasGars School of Rugby | Monnas sal Tuks-reeks titel teen EG Jansen verdedig - School of RugbyDie losskakel, Jonathan Viljoen, beskik oor ‘n kanonpoot. Hy het met sy lang lynskoppe vir Garsfontein etlike meters terug gejaag. Garsfontein moes vir elk van sy drieë veel harder as Monnas werk. Die span van Krugersdorp het ook elk van die geleenthede gebruik wat hy gekry het om punte aan te teken.

Garsfontein se agttal het duidelik sy kaptein en slot, Jordan van Dyk, asook die loskopstut, CJ Steinhobel, se fisieke spel voorlangs gemis.

Dit was ook die eerste keer dat Monnas se breier Tjaart van der Walt teen sy voormalige span te staan gekom het. Van der Walt het Garsfontein die vorige drie jaar tot die eindstryd van die Virseker Beeldtrofee saam met Johan du Plessis gebrei waarvan hulle die laaste twee jaar as kampioen gekroon is.

Puntemakers:

EG Jansen 69 (47) – Drieë: Dylan Schwartz (2), Ruben Beytell (2), Hugo Claassen (2), Carson Koekemoer, Dwayne Fourie, Ruan Kruger, Sheldon Rivabello. Doelskoppe: Schwartz (8). Strafdoel: Schwartz. Hoërskool Nelspruit 26 (14) – Drieë: Albie de Neysschen, Chris van der Merwe, Riehandré van der Merwe, Brandon Potgieter. Doelskoppe: Stephan van der Bank (3).

Monument 45 (24) – Drieë: Morné Brandon, Stephan le Roux, Larko Lindes, PJ Jacobs, Luke Rossouw, Tristan Dullisear. Doelskoppe: Jonathan Viljoen (5). Strafdoel: Viljoen. Garsfontein 21 (21) – Drieë: Ruben Roodt, Wesley Thompson, Keanu Prinsloo. Doelskoppe: Barry Schoombee (3).

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.