Transvalia maak geskiedenis teen Monnas

Written by Hannes Nienaber

NewsGEldoraigne1 School of Rugby | Transvalia maak geskiedenis teen Monnas - School of RugbyDit was ‘n naweek vol groot tellings en ook ‘n paar geskiedkundige seges.

Transvalia van Vanderbijlpark het geskiedenis op sy tuisveld gemaak deur vir die eerste keer ooit daarin te slaag om Monument van Krugersdorp te verslaan.

Transvalia was met 34-31 in die Virsekerbeker-wedstryd baas. Die twee spanne het vroeër vanjaar met 31-elk gelykop in die Tuks-reeks gespeel.

Dit was veral Valia se losskakel, Zian de Jager, wat weer uitstaande vir sy span was. Hy het ‘n belangrike skepdoel oorgeklits wat op die ou einde waarskynlik die verskil tussen die twee spanne was. 

Sy skool en die Valke se Cravenweek-keurders sal hulle asems ophou want De Jager ‘n hakskeenbesering in die wedstryd opgedoen. Voorlangs verdien die agtsteman, Boland Burger, en slot Marlo Swanepoel ‘n klop op die skouer.  

Garsfontein het sy oorheersing oor Menlopark op eerstespanvlak sedert 2014 met ‘n oorwinning van 48-24 voortgesit. Die wedstryd kon ook as ‘n ekstra Cravenweek-proefwedstryd vir die Blou Bulle gedien het. Sewe van Garsies se spelers asook vyf van Menlopark se spelers in in die pylvak om die Ligbloues se uitsoekspan te haal.

Die Turkoois Bere se flank Johandré Buitendag en kaptein en slot, Jordan van Dyk, het voorlangs Menlopark se aanslag afgeweer. Agterlangs van die SA Skole-senter, Diego Appollis, weer op sy stukke.

EG Jansen van Boksburg se eerstespan het weer sy vuur terug. Hy het HTS Middelburg se Rooi Bulle met 95-32 kafgedraf. Die wedstryd het 127 opgelwer, waarvan die Jansies se losskakel, Aurelio Philander, 30 punte met sy skopskoen aangeteken het.

Ben Vorster van Tzaneen gaan nie maklik vanjaar op sy tuisveld omgedop word nie. Die span het gister op sy tuisveld vir Hugenote van Springs met 102-3 verniel. Die span se vleuel Shima Molepo en buitesenter, Christiaan Smit, het elk vier keer die doellyn oorgesteek. Die heelagter, Jason Mulder, en vleuel Melvin Maake het elk ook driekunste aan drieë behaal. 

Oakdale Landbou was met 42-35 in ‘n wipplank-wedstryd oor die Hoërskool Outeniqua op sy tuisveld net buite Riversdal baas.

Niemand was beter vir die Bulle van Oakdale as sy kaptein en slot, Hannes Gous, nie. Hy het sy lyf op die spel geplaas en elke keer oor die voordeellyn gebeur wanneer hy die leerbal onder die arm vasgeknyp het.

Die heelagter, Clyde Lewis, is met ‘n geelkaart koelkas toe, maar het verged daarvoor toe hy ‘n mooi drie kort na sy terugkeer gaan druk het. Vir die Kwaggas het sy buitesenter, Darren Fortuin, gewys hoekom hy so hoog aangeslaan word.

In ‘n klipharde wedstryd in die Paarl moes Paarl Gimnasium bloed sweet om Boland Landbou met 42-38 te troef. Daar was nie veel te kies tussen die twee spanne nie. Vir Gimmies was sys enter Dawid Kellerman en flank Pierich Siebert goed.

Framesby beskik duidelik vanjaar oor ‘n gedugte span. Hy het Marlow Landbou se Wolramme met 27-16 met die kous oor die kop huis toe gestuur.

Glenwood het die bordjies met 55-12 teen Durban High School in hulle jaarlikse interskole verhang. Die Grasshoppers se agterlyn moet onder die voorstes in die land tel.

Die losskakel, Dylan Pretorius, het saam met die twee senters, Rynhardt Jonker en Conan le Fleur, heeltemal te veel vrae gehad vir Durban High School om te antwoord.

Glenwood spog steeds met ‘n onoorwonne rekord vanjaar.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het sy sege van 45-41 oor Jeppe High School te danke aan sy eie Shermanator behaal.

Die span se vleuel, Eric Sherman, het in die laaste beweging die wendrie gaan druk. Jeppe se skrumskakel, Kabelo Mokhethi, het met slegs twee minute se spel oor gaan druk om aan sy span die voorsprong met 41-38 gegee. Sherman se vreugde sal wel ietwat gedemp wees na hy ‘n rooikaart gekry het van die skeidsregter, Pro Legoete, vir sy taalgebruik na sy drie.

Potchefstroom Volkskool het sy grootste oorwinning nog oor Potchefstroom Gimnasium met 50-10 in hulle jaarlikse Classic Clash behaal. Die span se agtsteman, Jacques Gouws, was uitstaande en het drie keer Gimmies se doellyn oorgesteek.

In Sasolburg het die Spanners (HTS Sasolburg) die Kapoenners (Hoerskool Sasolburg) met 15-13 in hulle jaarlikse Classic Clash vasgedraai.

In die Noord-Vrystaat het Welkom Gimnasium weer vlam gevat en Witteberg van Bethlehem met 77-12 gekarnuffel. Voortrekker van Bethlehem het in die Sentrale-reeks vir Diamantveld sy eerste nederlaag van die kompetisie met 39-26 toegedien.

In die Oos-Vrystaat se eindstryd sal Reitz en Ficksburg sake uitspook. Reitz het sy halfeindstryd teen Paul Erasmus van Senekal met 71-7 verniel. Ficksburg het sy plek in die eindstryd met ‘n sege van 24-12 Harrismith bespreek.

AL DIE UITSLAE: 

VIRSEKERBEKER 

Afdeling 1 – Beker: Garsfontein 48, Menlopark 24; Transvalia 34, Monument 31; Helpmekaar 24, Hoërskool Nelspruit 22; EG Jansen 95, HTS Middelburg 32. Plaat: Eldoraigne 14, Kempton Park 12; Zwartkop 20, Hoërskool Rustenburg 19; Marais Viljoen 43, Centurion 41. Skild: Ben Vorster 102, Hugenote (Springs) 3; Oos-Moot 40, Hoërskool Pietersburg 19; Jeugland 40, Florida 38.

Afdeling 2 – Blou Bulle: Hoërskool Tuine 12, HTS John Vorster 7; Die Wilgers 23, Pretoria-Noord 15; Midstream College 24, Wonderboom 8. Goue Leeus: Hoërskool Alberton 26, Bastion 10; . Limpopo: Piet Potgieter 32, Hans Strijdom 10; Ben Viljoen 63, HTS Tom Naudé 5; Frikkie Meyer 64, Merensky 11. Luiperds: Potchefstroom Volkskool 50, Potchefstroom Gimnasium 10; Wesvalia 30, Wagpos 19. Pumas: Lydenburg 39, Piet Retief 29; Ermelo 37, Standerton 22; Ligbron 73, HTS Witbank 7; Generaal Hertzog 34, Rob Ferreira 15. Valke: Die Anker 20, Vereeniging Gimnasium 5; Hans Moore 22, Heidelberg Volkskool 22; Dr. Malan 50, Driehoek 17.  

Afdeling 3 – Blou Bulle: Akasia 16, Pretoria THS 10; HF Verwoerd 11, HTS Tuine 3; Erasmus (Bronkhorstspruit) 48, FH Odendaal 17; Gerrit Maritz 20, Curro Hazeldean 14. Goue Leeus: Jan Viljoen 18, Fochville 13; Riebeeckrand 29, Bekker 17; Queen’s High 33, Trinityhouse 24. Luiperds: Brits 39, Vryburg 35; Wolmaransstad 47, Schweizer-Reneke 18; Zeerust 55, HTS Rustenburg 12. Pumas: Uplands College 13, Penryn College 8; Lowveld High 36, Curro Nelspruit 7. Valke: Brandwag (Benoni) 31, Stoffberg 22; Delmas 29, Belvedere 19; John Vorster (Nigel) 37, Springs Boys’ High 27.

Afdeling 4 – Blou Bulle: Curro Roodeplaat 26, CR Swart 22. Pumas: Morgenzon Landbou 71, Patriot 17; Curro Bakenveld 17, Carolina 10; Barberton 28, Kanonkop 21.

KWAZULU-NATAL/OOS-KAAP

Glenwood 55, Durban High School 12; Framesby 27, Marlow Landbou 16; Selborne College 36, St Andrew’s College 17; Nico Malan 29, Otto du Plessis 13; Brandwag (Uitenhage) 31, Humansdorp Sekondêr 20; Pionier 57, Vryheid Landbou 7; Kearsney College 36, St Stithian’s College 31; Clifton 63, St Andrews (Bloemfontein) 17.

NOORDVAAL

Affies 45, Jeppe High School 41; Waterkloof 64, Noordheuwel 7; HTS Sasolburg 15, Hoërskool Sasolburg 13; Hoërskool Klerksdorp 26, Lichtenburg 17; Pretoria Boys’ High 32, St Benedict’s College 10; Southdowns College 24, Krugersdorp High 19; Curro Heuwelkruin 29, Nylstroom 27; Warmbad 43, Eric Louw 0; St Alban’s College 50, St David’s Marist 3; King Edward VII 49, Parktown Boys; High 12.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Voortrekker 39, Diamantveld 26; Noord-Kaap 50, Sentraal 19; Hentie Cilliers 24, Wilgerivier 22; Welkom Gimnasium 77, Witteberg 12; Goudveld-Hoërskool 57, AHS Kroonstad 15; HTS Welkom 28, Riebeeckstad 22; Ficksburg 24, Harrismith 12; Reitz 71, Paul Erasmus 7; Wessel Maree 36, Hennenman 17.

WES-KAAP

Oakdale Landbou 42, Outeniqua 35; Paarl Gimnasium 42, Boland Landbou 38; Rondebosch Boys’ High 43, HTS Drostdy 37; Stellenberg 33, DF Malan 26; Durbanville 38, Strand 15; Bishops 33, Wynberg Boys’ High 29; Swartland 24, Robertson 10; Brackenfell 79, Hottentots-Holland 3; Tygerberg 31, Parel Vallei 17; SACS 43, Hoërskool Bellville 22; De Kuilen 11, Monumentpark 10; Hoërskool Stellenbosch 21, Charlie Hofmeyr 18; Piketberg 22, Lutzville 16; Montagu 68, Montana 7.

X

Right Click

No right click