Nories maak dubbeld seker van plek in Kampioene-toernooi

Written by Hannes Nienaber

Twizza School of Rugby | Nories maak dubbeld seker van plek in Kampioene-toernooi - School of RugbyNoordheuwel het die naweek dubbeld seker gemaak dat hy vanjaar ‘n plek in die Hoërskole 7s-reeks se Kampioen van Kampioene-toernooi sal hê. Die reeks word in samewerking met Twizza aangebied. 

Noordheuwel is Saterdag as kampioen van die Krugersdorp-been van die reeks gekroon toe hy Waterkloof van Pretoria met 21-19 in die eindstryd op sy tuisveld verslaan het. Nories het die vorige week ook die kroon as kampioen van die gesogte Vryheid-been van die reeks gedra, wat deur die Hoërskool Pionier aangebied word.

Noordheuwel het sy plek in die eindstryd met ‘n oortuigende oorwinning van 38-7 oor die Heidelberg Volkskool bespreek. Waterkloof het ook nie veel probleme ondervind om sy plek in die eindstryd te bespreek nie. Klofies het Brandwag van Benoni met 38-14 in die ander halfeindstryd die loef afgesteek. 

Waterkloof het naelskraaps bo-aan Groep B geëindig. Klofies het net-net daarin geslaag om Heidelberg Volkskool met 22-21 in sy laaste groepwedstryd te verslaan. Die span van Pretoria het in sy ander twee groepwedstryde vir Noordheuwel II (24-5) en Krugersdorp High (42-7) gemaklik uit die pad gestamp. 

Noordheuwel moes ook harder as verwag werk om Dinamika van Alberton met 17-14 onder te kry. Die gasheer het wel gemaklik met Marais Viljoen (31-12) en Brandwag (22-7) afgereken. 

Die Kampioen van Kampioene-toernooi word vanjaar weer op Camp Discovery net noord van Pretoria aangebied. Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch is die verdedigende kampioen. Al die toernooie in die reeks word regstreeks deur DigiTV (www.digitv.co.za) gebeeldsend. 

Al die uitslae: 

Groep A: Noordheuwel 31, Marais Viljoen 12; Brandwag 24, Dinamika 10; Noordheuwel 17, Dinamika 14; Brandwag 19, Marais Viljoen 5; Noordheuwel 22, Brandwag 7; Marais Viljoen 22, Dinamika 12.

Groep B: Waterkloof 24, Noordheuwel II 5; Heidelberg Volkskool 57, Krugersdorp High 0; Waterkloof 42, Krugersdorp High 7; Heidelberg Volkskool 38, Noordheuwel II 0; Noordheuwel II 32, Krugersdorp High 19; Waterkloof 22, Heidelberg Volkskool 21. 

Halfeindronde - Bowl: Marais Viljoen 43, Krugersdorp High 19; Dinamika 24, Noordheuwel II 10. Beker: Noordheuwel 38, Heidelberg Volkskool 7; Waterkloof 38, Brandwag 14.

Eindstryde - Skild: Krugersdorp High 21, Noordheuwel II 15. Bowl: Marais Viljoen 17, Dinamika 0. Plaat: Brandwag (Benoni) 12, Heidelberg Volkskool 7. Beker: Noordheuwel 21, Waterkloof 19. 

X

Right Click

No right click