Monnas se trofeekas loop oor na hulle Noordvaal Sewes-titel behou

Written by Hannes Nienaber

NewsGMonumentNoordvaal7 School of Rugby | Monnas se trofeekas loop oor na hulle Noordvaal Sewes-titel behou - School of RugbyDaar is 'n nuwe messias in Krugersdorp. 

Hoewel Tjaart van der Walt slegs die naweek as spanbestuurder by Monument se suksesvolle verdediging van sy titel as kampioen van die Noordvaal Sewestoernooi was, kan sy invloed op die skool van Kruigersdorp se sukses die afgelope twee jaar nie gering geskat word nie.

Monnas het die afgelope twee jaar elke titel noord van die Vaalrivier ingepalm. Die Tuks-reeks, Virsekerbeker en Noordvaal Sewestoernooi se trofees van die afgelope twee jaar staan almal in dié. skool se trofeekas. 

Van der Walt sal egter nie wil hê dat hy al die eer kry nie. Monnas se sewesspan se twee breiers, Andries Botha en André Esterhuizen, asook die kondisionerings-spesialis, Jan van Rooyen, verdien die grootste deel van die eer vir die behouing van die titel. Botha is die broer van die gewese Bok Arno Botha. Andries het verlede jaar ook Monnas saam met Van der Walt tot die titel help brei. 

Monnas het in die eindstryd vir EG Jansen van Boksburg met 24-5 die loef afgesteek. Die Jansies het hulle egter uitstekend van hul taak gekwyt. Die span van Boksburg het teen rustyd daarin geslaag om met 'n voorsprong van 5-0 te gaan rus. Monnas het in die tweede helfte vir sy haastige Reuben Barnard die nodige spasie geskep. Barnard en Henco van Wyk was uitstaande in die eindstryd. Van Wyk is vir sy vertoning as die Speler van die Westryd aangewys. 

Monnas het met die titel ook sy plek in die Twizza Kampioen van Kampioene-toernooi later vanjaar net noord van Pretoria op Camp Discovery se velde bespreek. 

Monnas het sy plek in die eindstryd met 'n indrukwekkende sege van 27-7 oor Garsfontein bespreek. Garsies was saam met Monnas die vroeë gunstelinge om as kampioen gekroon te word. EG Jansen het danksy 'n reuse terugvegpoging in die ander halfeindstryd die gasheer, Menlopark, met 24-21 uitgeknikker. Menlopark het 'n voorsprong van 21-5 geniet voordat die Jansies die gety gedraai het. 

Menlopark het Garsfontein in die uitspeelwedstryd om die derde en vierdie posisie met 45-12 kaf gedraf. Menlopark het bo-aan Groep D geëindig danksy 'n enkele bonuspunt. Die Parkies het teen Helpmekaar-kollege met 29-31 verloor, maar danksy die bonuspunt bo Helpmekaar op die puntelys opgeëindig. 

Monnas kon ook nie die toernooi met 'n vlekkelose rekord deurgaan nie. Die span van Krugersdorp het in sy groepwedstryd teen Lichtenburg sy rieme styfgeloop. Liggies het die wedstryd met 19-17 gewen. Monnas het sy ander twee groepwedstryde teen Eldoraigne (24-12) en Transvalia (41-7) gewen. Transvalia het Lichtenburg met 38-14 kaf gedraf om Monnas 'n guns te bewys. 

Lichtenburg is uiteindelik as kampioen van die Bowl gekroon. Die Liggies het Pietersburg met 21-0 in die eindstryd verslaan. Waterkloof is as kampioen van die Plaat-afdeling gekroon na hy Transvalia met 33-19 in die eindstryd geklop het. 

EG Jansen het in sy groepwedstryde vir Pietersburg (35-14), Randburg (55-5) en Waterkloof (17-14) geklop. Garsfontein het ook nie veel probleme ondervind om bo-aan Groep A te eindig nie. Garsies se Blitzbere het Hugenote van Springs (26-12), Ben Vorster (27-10) en Ermelo (41-12) in sy drie groepwedstryde kaf gedraf. 

Die Hoër Jongenskool Paarl se Sean Erasmus sluit hom in Oktober by die Goue Leeus aan na sy sukses die afgelope drie seisoene met Boishaai se eerstespan. Dit behoort nie lank te wees voor Van der Walt ook 'n paar aanbiedinge vanuit provinsiale gelede te wagte kan wees nie. Voordat hy hom by Monnas aangesluit het, het hy ook Garsfontein tot twee Beeldtrofee-titels (deesdae Virsekerbeker) gebrei. 

Van der Walt behoort egter steeds 'n paar doelwitte in die oog as afrigter van Monnas te hê. Monument vier in 2021 sy 100ste bestaansjaar. 

Al die uitslae: 

Groep A: Garsfontein 26, Hugenote 12; Ermelo 31, Ben Vorster 26; Garsfontein 27, Ben Vorster 10; Ermelo 38, Hugenote 26; Ben Vorster 24, Hugenote 0; Garsfontein 41, Ermelo 12. 

Groep B: EG Jansen 35, Pietersburg 14; Waterkloof 21, Randburg 12; EG Jansen 55, Randburg 5; Waterkloof 26, Pietersburg 24; Pietersburg 36, Randburg 10; EG Jansen 17, Waterkloof 14. 

Groep C: Monument 24, Eldoraigne 12; Transvalia 38, Lichtenburg 14; Monument 41, Transvalia 7; Lichtenburg 29, Eldoraigne 10; Transvalia 20, Eldoraigne 17; Lichtenburg 19, Monument 17.

Groep D: Menlopark 36, HTS Middelburg 7; Helpmekaar 31, Oos-Moot 12; Menlopark 35, Oos-Moot 17; HTS Middelburg 38, Helpmekaar 12; Helpmekaar 31, Menlopark 29; Oos-Moot 31, HTS Middelburg 21.

KWARTEINDRONDE - Bowl: Ben Vorster 24, Randburg 22; Pietersburg 29, Hugenote 24; Eldoraigne 19, HTS Middelburg 12; Lichtenburg 14, Oos-Moot 12. Beker: Garsfontein 33, Waterkloof 19; EG Jansen 24, Ermelo 5; Menlopark 41, Transvalia 5; Monument 22, Helpmekaar 14.

HALFEINDRONDE - Skild: Randburg 29, Oos-Moot 24; HTS Middelburg 31, Hugenote 5. Bowl: Lichtenburg 38, Ben Vorster 17; Pietersburg 47, Eldoraigne 15. Plaat: Waterkloof 26, Helpmekaar 17; Transvalia 33, Ermelo 14. Beker: Monument 27, Garsfontein 7; EG Jansen 24, Menlopark 21.

UITSPEELWEDSTRYD - 3/4: Menlopark 45, Garsfontein 12.

EINDSTRYDE - Skild: Randburg 33, HTS Middelburg 29. Bowl: Lichtenburg 21, Pietersburg 0. Plaat: Waterkloof 33, Transvalia 19. Beker: Monument 24, EG Jansen 5.

X

Right Click

No right click