Geen wegkruipplek in vanjaar se Kampioen van Kampioene-toernooi nie

Written by Hannes Nienaber

Twizza School of Rugby | Geen wegkruipplek in vanjaar se Kampioen van Kampioene-toernooi nie - School of RugbyDaar is geen wegkruipplek op vanjaar se Hoërskole Sewesreeks se Kampioen van Kampioene-toernooi wat in samewerking deur Twizza aangebied word. Die toernooi vind soos verlede jaar net noord van Pretoria op die velde van Camp Discovery plaas. 

Al die wedstryde sal regstreeks op DigiTV.co.za gebeeldsend word. 

Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch gaan sukkel om sy titel as kampioen suksesvol te verdedig. Die span van die Eikestad sal 'n sterker span na die toernooi moet stuur as die een wat aan die Marius Schoeman-toernooi en die School Sports Kampioen van Kampioene-toernooi deelgeneem het, indien hy weer vanjaar die trofee omhoog wil hou. 

Paul Roos is saam met Helpmekaar-kollege en Maritzburg College in Groep B geloot. Helpies kan vir 'n verrassing of twee op die toernooi sorg. Sy haastige Christiaan Bezuidenhout kan met sy vaart 'n hele paar verdedigers besig hou. Die vlugvoetige Tiaan Botes behoort genoeg ruimte vir Bezuidenhout aan die buitekant te skep.  

Die twee grootste aanspraakmakers op vanjaar se titel sal Grey-kollege van Bloemfontein en die Hoër Jongenskool Paarl wees. Paarl Boishaai het Paul Roos en Grey tydens die Marius Schoeman-toernooi om die titel uitgestof om sy plek vir die Kampioen van Kampioene te bespreek. Dit is veral Boishaai se Javier Farmer wat fyn deur die span se teenstanders dopgehou sal moet word. 

Dit is jammer dat die twee beste spanne in die noorde van die land, Monument van Krugersdorp en Garsfontein van Pretoria, nie op die toernooi in aksie sal wees nie. Monnas het gekwalifiseer deur as kampioen van die Noordvaal-toernooi gekroon te word, maar het besluit om nie aan die Kampioen van Kampioene-toernooi deel te neem nie. 

Die toernooi by Camp Discovery beloof egter steeds om een van die voorste toernooie vanjaar op skolevlak te wees. Spanne vanuit die noorde soos Noordheuwel, Waterkloof en Rustenburg is nie spanne wat sonder handskoene aangepak kan word nie. 

Grey is saam met Noordheuwel en Rustenburg in Groep C geloot. Noordheuwel het in twee van die Hoërskole Sewesreeks se toernooie die septer geswaai. 

Paarl Boishaai is in die Blou Groep (Groep A) saam met Waterkloof en Diamantveld. In Groep D is Glenwood van Durban, Noord-Kaap en Kempton Park saam geloot. Al die groepwedstryde vind Vrydag plaas, terwyl die uitspeelwedstryde op Saterdag beslis sal word. 

Die Groepe is: 

Groep A: Hoër Jongenskool Paarl, Waterkloof, Diamantveld. 

Groep B: Paul Roos Gimnasium, Maritzburg College. Helpmekaar. 

Groep C: Grey College, Noordheuwel, Hoërskool Rustenburg. 

Groep D: Glenwood, Noord-Kaap, Kempton Park. 

Die bepalings is: 

Vrydag, 19 Oktober 2018 

Veld A - 16:00: Noord-Kaap vs Kempton Park; 16:20: Maritzburg College vs Helpmekaar; 16:40: Grey College vs Rustenburg; 17:00: Hoër Jongenskool Paarl vs Diamantveld; 17:20: Glenwood vs Noord-Kaap; 17:40: Paul Roos Gimnasium vs Maritzburg College. 

Veld B - 16:00: Noordheuwel vs Rustenburg; 16:20: Waterkloof vs Diamantveld; 16:40: Glenwood vs Kempton Park; 17:00: Paul Roos Gimnasium vs Helpmekaar; 17:20: Grey College vs Noordheuwel; 17:40: Hoër Jongenskool Paarl vs Waterkloof.

X

Right Click

No right click