Grey ook 2018 se voorste sewesspan na verowering van Twizza Hoërskole Sewesreeks-titel

Written by Hannes Nienaber

NewsGTwizzaKamp School of Rugby | Grey ook 2018 se voorste sewesspan na verowering van Twizza Hoërskole Sewesreeks-titel - School of RugbyGrey-kollege se sewesspan het vanjaar skoonskip gemaak.

Die skool van Bloemfontein se o.17-span is die naweek as die onbetwiste nasionale kampioen op die Twizza Hoërskole Sewesreeks se Kampioen van Kampioene-toernooi op die velde van Camp Discovery gekroon. 

Grey het die Hoër Jongenskool Paarl in die eindstryd met 21-18 verslaan om die kroon te dra. Net na die eindstryd het 'n tipiese hoëveld donderstorm uitgesak. 

Die span van die Rosestad het van die begin af spiere gebult en dit was duidelik dat indien iemand die kroon wil dra hy eers vir Grey sou moes verslaan. Hy het die Hoërskool Rustenburg (52-0) en Noordheuwel van Krugersdorp (42-5) behoorlik in sy twee groepwedstryde kaf gedraf. 

Grey se o.15-span is ook as nasionale kampioen by Camp Discovery gekroon. 

Noordheuwel, wat vanjaar in twee van die Twizza Hoërskole Sewesreeks se toernooie konning gekraai het, het slegs teen die uiteindelike kampioen die knie gebuig. Grey het Noordheuwel het 31-7 in die halfeindronde verslaan. 

Paarl Boishaai het sy plek in die eindstryd met 'n oorwinning van 28-14 oor Helpmekaar-kollege van Johannesburg bespreek. Nories het Helpies in die uitspeelwedstryd om die derde posisie met 21-14 geklop om die toernooi as die beste van noord van die Vaalrivier af te sluit. 

Verlede jaar se kampioen, Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch, moes met die titel as kampioen van die Plaat-afdeling tevrede wees. Hy het teen Paarl Boishaai met 15-24 in die kwarteindronde vasgeval. Grey het in sy kwarteindstryd vir Kempton Park met 53-7 verniel.

Helpmekaar het sy plek in die halfeindronde met 'n sege van 22-14 oor Waterkloof bespreek. Noordheuwel het vir Noord-Kaap van Kimberley met 19-5 in die ander kwarteindstryd verslaan. Grey het Noord-Kaap in School Sports se Kampioen van Kampioene-toernooi vroeër vanjaar met 35-10 in die eindstryd verslaan. 

Die Twizza Hoërskole Sewesreeks met Darryl Weir aan die stuur beloof om in 2019 na nog hoër hoogtes te groei. Weir was destyds by die organisering van die suksesvolle @lantic-reeks betrokke. 

Al die uitslae: 

Groep A: Waterkloof 20, Diamantveld 12; Hoër Jongenskool Paarl 32, Diamantveld 5; Hoër Jongenskool Paarl 24, Waterkloof 17.

Groep B: Helpmekaar 33, Maritzburg College 17; Helpmekaar 26, Paul Roos Gimnasium 19; Paul Roos Gimnasium 36, Maritzburg College 5.

Groep C: Noordheuwel 26, Rustenburg 21; Grey-kollege 52, Rustenburg 0; Grey-kollege 42, Noordheuwel 5.

Groep D: Kempton Park 15, Noord-Kaap 12; Glenwood 24, Kempton Park 19; Noord-Kaap 31, Glenwood 21. 

KWARTEINDRONDE - Beker: Hoër Jongenskool Paarl 24, Paul Roos Gimnasium 15; Helpmekaar 22, Waterkloof 14; Grey College 53, Kempton Park 7; Noordheuwel 19, Noord-Kaap 5. 

HALFEINDRONDE - Bowl: Diamantveld 21, Maritzburg College 12; Glenwood 19, Rustenburg 7. Plaat: Paul Roos Gimnasium 24, Waterkloof 19; Kempton Park 22, Noord-Kaap 21. Beker: Hoër Jongenskool Paarl 28, Helpmekaar 14; Grey-kollege 31, Noordheuwel 7. 

UITSPEELWEDSTRYDE - 7/8: Waterkloof 40, Noord-Kaap 0; 3/4: Noordheuwel 21, Helpmekaar 14.

EINDRONDE - Skild: Rustenburg 15, Maritzburg College 10. Bowl: Glenwood 17, Diamantveld 12. Plaat: Paul Roos Gimnasium 41, Kempton Park 5. Beker: Grey-kollege 21, Hoër Jongenskool Paarl 18.

X

Right Click

No right click