Paarl Gim plant uitklophou teen Monnas, terwyl Grey wen na terugvegpoging

Written by Hannes Nienaber

NewsGPaarlGimnasium School of Rugby | Paarl Gim plant uitklophou teen Monnas, terwyl Grey wen na terugvegpoging - School of RugbyDit was ‘n stryd tussen twee swaargewigte van skolerugby en op die ou einde was dit Paarl Gimnasium wat daarin kon slaag om die uitklophou te plant.

Gimmies het Monument van Krugersdorp met 43-29 die loef tydens die Noord/Suid-toernooi hier afgesteek. Albei spanne het gesukkel in die lynstane en dit was ook in die aspek van die spel waar Monnas met die telling op 29-elk ‘n geleentheid gehad en verbrou het om ‘n uitklophou te plant.

Gimmies se sterspelers was sy losskakel, Stephan du Toit, en heelagter, Tiaan Swanepoel. Laasgenoemde het met sy lang lynskoppe die druk gereeld verplaas. Du Toit het met ‘n hele paar skerp breekslae vorendag gekom e nook sy agterlyn seepglad weggestuur.

Monnas se agtsteman, Izan Esterhuizen, het gewys dat gewis ‘n aanspraak op ‘n plek in vanjaar se SA Skole-span behoort te maak.

Grey-kollege van Bloemfontein het weereens bewys dat indien jy hom op die rugbyveld wil omdop jou verdedigingslyne nog vyf minute na die eindfluitjie rotsvas sal moet wees.

Menlopark se ondersteuners sou verskoon gewees het indien hulle kort voor rustyd met die gedagte gesit het dat hulle span ‘n geskiedkundige sege oor Grey sou kon behaal. Grey het die kragmeting op die ou einde gemaklik met 59-28 gewen.

Menlopark het kort voor rustyd ‘n voorsprong van 22-7 oor die besoekers van die Rosestad geniet. ‘n Drie net voor rustyd deur Grey se slot Danwich Beukes het die begin van Grey se terugvegpoging ingelei. Die spanne het gaan rus met Menlo wat 22-14 voorloop.

Beukes, die seun van die voormalige Vrystaat-slot Joe Beukes, het met sy spel in die vastelos ‘n sleutelrol in sy span se terugvegpoging vertolk. Hy het 'n reuse impak vanaf die plaasvervangersbbank gemaak. 

Die heelagter, Sonwabo Sokoyi, het vier keer agter Menlopark se doellyn ‘n draai gaan maak.

Menlopark se beste spelers was sy slot Erick Knoetze en die losskakel, Marcelle Deysel. Grey het eers in die 54ste minuut van die kragmeting vir die eerste keer die voortou geneem.

Dit was nou wel ‘n gelykop-uitslag, maar vir Helpmekaar-kollege het dit soos ‘n wen gevoel toe hulle met 20-elk gelykop teen die Hoër Jongenskool Paarl gespeel het.

Helpies se losskakel, Tiaan Botes, het in die doodsnikke van die wedstryd ‘n strafdoel van 50 meter oorgeskop om die gelykop-uitslag af te dwing.
Botes was nie net ‘n staatmaker met sy skopskoen nie, maar was ook met sy algemene spel ‘n uitblinker vir die span van Johannesburg. Voorlangs het die kantman, Tyler Skudder, ‘n hele paar keer oor die voordeellyn gebars.

Boishaai se agtsteman, Gideon van Wyk, is vir sy spel in die wedstryd as Speler van die Wedstryd aangewys.

Tydens die Noord/Suid Derby in Uitenhage het HTS Drostdy se Donkies vir Transvalia met 106-3 ‘n rugbyles geleer. Verlede jaar tydens die toernooi was die wedstryd tussen die twee skole een van die hoogtepunte van die seisoen.

Transvalia het egter vanjaar besluit om liewer hulle tweede toergroep na die toernooi te stuur. Dit is hoekom die Donkies so maklik vanjaar met die span van Vanderbijlpark kon klaarspeel.

Tydens die jaarlikse Graeme College Rugbydag in Grahamstad is die uitslag tussen St Andrew’s College en SACS die een wat meeste ondersteuners regop sal laat sit. Saints het die wedstryd met 27-13 gewen en daarmee ‘n duidelik boodskap uitgestuur dat hulle vanjaar waarskynlik die voorste span vanuit die Oos-Kaap sal wees.

AL DIE UITSLAE: 

NOORD/SUID-TOERNOOI

Garsfontein 28, Outeniqua 24; Paarl Gimnasium 43, Monument 29; Grey-kollege 59, Menlopark 28; Helpmekaar-kollege 20, Hoër Jongenskool Paarl 20; Boland Landbou 36, Waterkloof 31.

OAKDALE RUGBYWEEK

Diamantveld 66, Zwartkop 19; Hermanus 43, Hoërskool Alberton 22; Dinamika 31, Hoërskool Upington 19; Kempton Park 55, Brackenfell 5; Lichtenburg 34, Hoërskool Bellville 5; Duineveld 29, Jeugland 12; Ellisras 36, Augsburg Gimnasium 7; Montagu 14, Vredendal 10; Overberg 15, Landboudal 15; Uitnodigingspan 47, Oosterlig 7; Despatch 49, Bredasdorp 10; Potchefstroom Gimnasium 29, Hugenote (Wellington) 28; Langenhoven Gimnasium 33, Rockingham 22.

NOORD/SUID DERBY

HTS Drostdy 106, Transvalia 3; Hoërskool Middelburg 46, Hoërskool Strand 24; Ben Vorster 18, Nico Malan 15; HTS Daniël Pienaar 24, Marais Viljoen 14.

GRAEME COLLEGE RUGBYDAG

Dale College 14, Graeme College 14; Kingswood College 31, Pearson 0; St Andrew’s College 27, SACS 13; Selborne College 33, Marlow Landbou 19; Framesby 40, Queen’s College 8; Muir College 19, Port Alfred 7; Mary Water 12, PJ Olivier 7.

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.