Kan Monnas sy titel as kampioen van die Noordvaal Sewes behou?

Written by Hannes Nienaber

Wie gaan vanjaar die kroon as die voorste sewesspan noord van die Vaalrivier dra? 

Monument van Krugersdorp is die verdedigende kampioen, maar hy kan hom gereed maak vir sterk teenstand van 'n hele paar spanne indien hy, sy hande op die trofee wil behou. Die toernooi vind vanjaar vir die vyfde keer op die velde van die Hoërskool Menlopark plaas. Monnas het verlede jaar in die eindstryd vir Transvalia in die doodsnikke met 21-14 getroef. Al die wedstryde op die A-veld word regstreeks op DigiTV.co.za uitgesaai.  

Monnas se Tjaart van der Walt het nog elke jaar 'n span in die eindstryd gehad. Hy het Garsfontein gebrei toe hulle van 2014 tot 2016 in die eindstryd in aksie was. Van der Walt het verlede jaar saam met Andries Botha die span van Krugersdorp gebrei. Hy sal egter nie vanjaar as afrigter by die span betrokke wees nie, maar slegs as spanbestuurder. 

Monnas se leisels sal deur Botha en André "Spyker" Esterhuizen op vanjaar se toernooi vasgehou word. 

Garsfontein behoort een van die aanspraakmakers op die titel te wees. Sy SA Skole-skrumskakel, Jurich Claassens, was tot dusver vanjaar verwoestend. Garsies se BlitzBere het ook vroeër vanjaar tydens die Marius Schoeman Sewes-toernooi in die Paarl die beste van die spanne van die Noordvaal gevaar. Die Blitzbere was die enigste span van die Noordvaal wat in die kwarteindrondes van die Beker-afdeling in aksie was. 

Monument is saam met Lichtenburg, Transvalia en Eldoraigne in Groep C geloot. Monnas en Transvalia sal mekaar reeds Vrydag om 15:40 in 'n herontmoeting van verlede jaar se eindstryd pak. Garsfontein kan sterk teenstand van Ben Vorster van Tzaneen in Groep A verwag. Hugenote van Springs en Ermelo is die ander twee spanne in Groep A.

EG Jansen is saam met die Hoërskool Pietersburg, Waterkloof en Randburg in Groep B geloot. Randburg het die Goue Leeus se sewestoernooi gewen, so die span kan dalk vir 'n verrassing of twee sorg. 

Die gasheer Menlopark is saam met Oos-Moot, Helpmekaar en HTS Middelburg in Groep D geloot. Menlopark sal deur Dean van der Watt en Braam Pretorius gebrei word. Pretorius het hom onlangs by Menlopark aangesluit. Hy het vanjaar Maragon Mooikloof asook Waterkloof se eerstespanne afgerig. 

Die Groepe is:

Groep A: Garsfontein, Hugenote (Springs), Ermelo, Ben Vorster. 

Groep B: EG Jansen, Pietersburg, Waterkloof, Randburg. 

Groep C: Lichtenburg, Transvalia, Monument, Eldoraigne. 

Groep D: Menlopark, Oos-Moot, Helpmekaar, HTS Middelburg. 

X

Right Click

No right click